MOSSELBAAI NUUS - Die eienaar van die sorgsentrum waar 'n 76-jarige vrou met Alzheimer se siekte na bewering in haar kamer deur 'n "familievriend" verkrag is, sê sy gevoelens oor die gebeure strek verder as woede. "Ek is teleurgesteld in die mensdom. Die verdagte het aan ons gesê hy beskou die tannie as sy ma. Wat hy gedoen het is 'n skande."
Die eienaar het versoek dat die sorgsentrum se naam weerhou word om pasiënte en hul families te beskerm.
Hy sê daar is 32 kameras in die fasiliteit wat beeldmateriaal opneem. Dit is 'n standaardmaatreël en kameras mag slegs nie in die pasiënte se badkamers geïnstalleer word nie. Nadat die verpleegster die voorval aangemeld het, het hy saam met die matrone na die beeldmateriaal gekyk.
"Dit het nie lank geneem voordat ons besef het hoe ernstig dit is nie. Ek het dadelik die pasiënt se dogter gebel en vir haar gevra om my te kom sien. Indien haar dogter nie 'n saak by die polisie gemaak het nie, sou ek, want dit is my morele plig."
Die eienaar het die verdagte gebel en hom ingelig dat hy die perseel verbied word. Dit blyk dat die verdagte nie bewus was van die kameras in die kamers nie.
Verskillende stadiums
"Daar is verskillende stadiums van Alzheimer se siekte, een daarvan is dat pasiënte verskriklik vinnig vergeet. Binne 'n kwessie van twee minute vergeet hulle wat twee minute vantevore gebeur het. Seksuele predatore sal so iets uitbuit want die slagoffer is geensins 'n getuie nie. Wat ek wel hieruit geleer het is dat indien ons nie kameras gehad het nie, ons hande afgekap sou wees. Die gebruik van kameras behoort 'n wetgewing te wees om die pasiënte in sorgsentrums te beskerm."
Die eienaar sê hulle sal voortaan geen besoeke van teenoorgestelde geslagte in kamers van die pasiënte toelaat nie.
"Die hartseer ding is, die tannie het geen idee wat gebeur het nie. Tog kan ek nie dink dat daar nie wel 'n vorm van skade gemaak is nie. Dit is 'n siek geklassifiseerde mens wat so iets doen. Hierdie tipe ou moet weggesit word vir ewig."
Maria van Staden, bekend vir haar betrokkenheid by die bewusmaking rakende Alzheimer se siekte was geskok om van die voorval te verneem. "Dit is siek. Ek is vreeslik geskok. Ek wil graag sien dat hierdie persoon in die hof verskyn en dat geregtigheid seëvier."
Lees 'n vorige artikel: Familievriend ‘verkrag’ 76-jarige demensielyer
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'