MOSSELBAAI NUUS - ‘n Interne ondersoeker van Eldo Coaches en sy opgeleide dwelm- en perlemoenhond het vanoggend, 3 Desember omstreeks 02:40 ‘n groot slag geslaan toe hulle op 106 500 mandrax-tablette afgekom het.
Kaptein Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie het bevestig dat die geskatte waarde van die dwelms meer as R 5 miljoen is.
Die ondersoeker, Danie Koch het vanoggend tydens ‘n roetine ondersoek vyf bokse by die Shell Voorbaai sien rondstaan waarvan die inhoud onbekend was.
Sy dwelmhond, Sticks het aangedui dat daar verdagte materiaal in die bokse is. Koch het eienaar van die bokse in die kafeteria opgespoor en versoek om die bokse oop te maak, waarna hy die inhoud as mandrax geëien het.
Hierna het Koch die Da Gamaskop-polisie gekontak wat spoedig op die perseel was om die verdagte te arresteer en beslag op die dwelms te lê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'