MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se munisipale raad het kennis geneem van die ongelukkigheid wat die jongste, drastiese verhoging in grafpryse meegebring het en het daarom 'n spesiale raadsvergadering belê vir Donderdagmiddag, 19 Julie.
Aangesien die raadsvergadering plaasgevind het nadat dié koerant reeds gedruk is, word lesers genooi om die besluite van die raad oor hierdie belangrike aangeleentheid aanlyn by mosselbayadvertiser.com te volg.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het sterk standpunt ingeneem.
In 'n poging om veral behoeftige en arm huishoudings te help, maar ook die middelklas wat sukkel in die huidige ekonomiese realiteit van Suid-Afrika, het die munisipaliteit gistermiddag 'n spesiale raadsvergadering byeengeroep om voorstelle te bespreek om die verhoging van tariewe vir die begraafplaas terugwerkend te verander.
Volgens die uitvoerende bestuurder: strategiese dienste, mnr Colin Puren, is die raad deeglik bewus van die terugvoering wat veral van begrafnisondernemers en geestelike leiers ontvang is.
"Die konsepbegroting was wel vir geruime tyd ter insae vir openbare kommentaar beskikbaar gewees, aanlyn op die munisipale webwerf sowel as
by munisipaliteite en munisipale kantore, soos die raad se openbare deelnamebeleid vereis."
"Aangesien geen kommentaar ontvang is nie, is die begroting na hierdie periode vir openbare insette deur die raad aanvaar."
Die tariewe wat die gemeenskap die josie in het, het egter nie betrekking op die geregistreerde deernishuishoudings gehad nie. Sover vasgestel kon word, is daar sedert 1 Julie slegs in drie gevalle die verhoogde grafkostes betaal.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het aan die Advertiser gesê dat, afhangende van die raad se besluit tydens die spesiale raadsvergadering, dié gevalle waarskynlik 'n terugbetaling sal ontvang. Na verwagting sal die tariewe wat tydens die spesiale raadsvergadering goedgekeur word, terugwerkend vanaf 1 Julie van krag wees.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'