MOSSELBAAI NUUS - Lede van opposisiepartye het kapsie gemaak teen die DA se uitlatings oor die behuisingskwessie in Mosselbaai en die uitvoer van 'n oudit in dier voege.
Dié ontevredenheid volg na 'n berig gepubliseer deur die Mossel Bay Advertiser verlede week waarin die plaaslike DA-bestuur die opposisie uitnooi om bewys daarvan te lewer dat behuising onregmatig oorhandig sou wees.
Ná die berig verskyn het, het ACDP-raadslid Jeanette Gouws, kapsie gemaak deur te sê dat sy 'n oudit aangaande die toekenning aangevra het.
Dit volg nadat 'n stemnota deur 'n dienende DA-raadslid wyd op sosiale media versprei is, waarin gesuggereer word dat die toekenning van behuising die verkeerde persone bevoordeel. Die ACDP het die oudit aangevra sodat aangedui kon word of daar wel verkeerd gehandel is, al dan nie.
Gouws, veral met betrekking tot die Mountain View-ontwikkeling langs Louis Fourieweg, beweer dat sy al verskeie kere insae in die toekenningslyste gevra het, maar dat daar nie aggeslaan is op die dringendheid van haar versoek nie.
Volgens Gouws het sy 'n mosie dat 'n oudit gedoen moet word op 24 Junie voor die raad gebring wat deur die DA-raadslede verwerp is. Sy maak kapsie daarteen dat 'n oudit toe wel gedoen is, sonder die ander raadslede se medewete en dat die uitslag daarvan intussen deur die onderburgemeester, raadsheer Dirk Kotzé, as 'n stemnota gesirkuleer is.
Gouws sê dat die ACDP die oudit se uitslag nie as geloofwaardig kan aanvaar nie, aangesien "die DA hulleself ondersoek en vry van korrupsie bevind het".
Dawid Kamfer van ICOSA ondersteun dieselfde standpunt. Boonop het ICOSA op 16 Junie 'n petisie aan die Mosselbaai-munisipaliteit oorhandig waarin die gemeenskap se kwellinge vervat is.
Behuising is bo-aan die lys, waarop ander sake onder meer die beweerde verkoop van 'n stuk grond in Highway Park ook verskyn.
Tydens 'n telefoniese gesprek met die Advertiser, het Kamfer genoem dat sy party vrae het oor die grondtoekenning vir motorsportontwikkeling in Mossdustria.
Kamfer het die DA se uitlatings as "'n klap in die gesig van die opposisie" beskryf.
DA reageer
Dirk Kotzé, DA-kiesafdelingshoof, asook uitvoerende onderburgemeester van Mosselbaai, het by navraag oor die kwessies reageer.
"Daar moet eerstens 'n onderskeid getref word tussen die DA-beheerde raad en die administrasie. Daar word in die omgangstaal na die administrasie as die 'munisipaliteit' verwys. Dit is egter belangrik om daarop te let dat die administrasie nie-polities funksioneer.
"Boonop het die volle raad 'n oorsigrol om ten opsigte van die administrasie te vervul. Daar kan dus geen sprake wees van politieke bevoordeling, soos opposisiepartye sou beweer, met dié of enige ander ondersoek nie.
"Die oudit waarna die opposisiepartye verwys, is 'n interne oudit wat uitgevoer is oor die laaste paar maande, in lyn met die goedgekeurde risiko-gebaseerde interne ouditplan.
"Anders as wat beweer word, was die ondersoek dus nie die gevolg van enige politieke party se versoek nie, maar is die proses tydig geouditeer, soos per die drie-jaar strategiese interne ouditplan, waarna aanbevelings gemaak is. Dié aanbevelings word tans geïmplimenteer."
Kotzé het verduidelik dat juis om onafhanklikheid te verseker, gebruik Mosselbaai-munisipaliteit die dienste van 'n onafhanklike, eksterne ouditeursfirma om die interne ouditfunksie uit te voer. Boonop bestaan die ouditkomitee, insluitend die voorsitter van die komitee, uit eksterne, onafhanklike, professionele kundiges.
"Beweringe van politiekery in hierdie verband is eenvoudig opportunisties en tipies van die tydvak voor 'n verkiesing."
"Verhuring, al dan nie, van gesubsidieerde behuising is nie 'n ongewone verskynsel nie en die omvang van die probleem is nie tot Mosselbaai beperk nie.
"Nóg die provinsiale-, nóg die nasionale departemente van menslike nedersettings kon tot dusver met werkbare oplossings kom vir die probleem waarvan hulle deeglik bewus is. Enige landsburger het die reg het om te verhuis en/of om sy of haar eiendom verhuur.
"Die verhuring is meer algemeen by subsidiehuise aangesien dié huise nie binne agt jaar nadat die begunstigde daarvan besit geneem het, verkoop mag word nie.
Die behuisingswaglys is die eiendom van die provinsiale department van menslike nedersettings is. Enige aansoeker en/of persone wat reeds hul name op die waglys geplaas het, kan die behuisingskantoor in Mayixhaleweg, KwaNonqaba besoek," het Kotzé afgesluit.
* Lees die kommentaar aangaande die motorsportontwikkeling en verkoop van grond in High Way Park hier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'