Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Benevolent Park, 'n sorgsentrum vir bejaardes was op Woensdag, 26 September oorstelp van vreugde toe Gift of the Givers met 'n vragmotor vol geskenke in Mosselbaai opgedaag het. Vroeër vanjaar het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal die jaar 2018 as die Jaar van Benevolent Park verklaar.
Gestand aan sy woord het hy in ooreenstemming met Ali Sablay van Gift of the Givers gewerk om ook aan die behoeftes van die inwoners van dié bejaardesorgsentrum te voorsien. Inwoners spog sedertdien met nuwe komberse, sommige met nuwe matrasse, en talle het heerlike kospakkies ontvang.
Raadsheer Levendal het Gift of the Givers van harte bedank vir die onbaatsugtige uitreik na bejaardes, mense wat in hul fleur verantwoordelik was vir die groei en vooruitgang van Mosselbaai.
"Ons kan bloot dankie sê vir die omgee waarmee Gift of the Givers die mense van Mosselbaai benader. Vroeër vanjaar het landbouers in ons omgewing voordeel getrek uit die veevoer wat die organisasie welwillend hier versprei het. Vandag baat die ouer garde by die onselfsugtige naasteliefde van Gift of the Givers," het raadsheer Levendal gesê.
Benevolent Park-inwoners spog met nuwe komberse wat deur Ali Sablay van Gift of the Givers aan hulle besorg is. Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het hand bygesit met die uitdeel van die talle geskenke. Foto's: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'