Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Tien dae nadat Arno van der Mescht (21) op 20 Maart deur 'n fratsbrander van die rotse onder die Mosselbaai Gholflandgoed in die see verdwyn het, het die polisie se duikspan sy liggaam op Woensdag, 30 Maart uit die water gehaal.
Volgens die Mosselbaai-polisie se kommunikasie-beampte, ao Pieter Koekemoer het 'n patrolliespan van die Community Work Programme (CWP) die liggaam op rotse gesien en die polisie na die toneel ontbied.
Die liggaam het egter weer terug in die see gespoel. 'n Polisieduiker het in die water gespring en 'n tou om die liggaam gebind waarna dit aan land gebring is.
Die posisie waar die liggaam bokant die hoogwatermerk uitgehaal is, het dit egter onmoontlik gemaak vir verwydering. Daarom is die liggaam gedurende die nag deur die polisie bewaak.
'n EMS-helikopter, wat spesifiek gebruik word om hierdie tipe reddings en verwyderings te doen, is gister op Donderdag, 31 Maart vanuit Oudtshoorn na Mosselbaai gebring om die liggaam teen die kranse op te bring.
FOTOGALERY: Liggaam suksesvol herwin van rotse op die St Blaize-staproete
Arno van der Mescht
'n Span reddingswerkers het ook gereed gestaan om die liggaam met behulp van toue na bo te bring, indien toestande ongunstig vir die helikopter was.
Binne 24 minute was die operasie egter afgehandel en al die reddingswerkers per helikopter na bo gebring.
VIDEO: Liggaam suksesvol herwin van rotse op die St Blaize-staproete
Van der Mescht se liggaam is aan die polisie se forensiese afdeling oorhandig waarna die span nooddienswerkers 'n afsluitingsgesprek betreffende die operasie gehou het. Die operasie was suksesvol en alle betrokkenes is geloof vir hul bydrae. Meegevoel is teenoor die familie en vriende betuig.
Volgens ao Koekemoer word die identiteit van die persoon asook die oorsaak van dood eers bepaal, waarna die familie dan gevra word om die liggaam uit te ken.
Nooddienswerkers wat betrokke was by die herwinning van die liggaam op 31 Maart.
Van der Mescht is positief uitgeken.
'n Grootskaalse soektog is op die dag van Van der Mescht se verdwyning van stapel gestuur. Hy was saam met vyf ander vriende.
Van der Mescht en vriende het op die dag van sy verdwyning vanaf Albertinia gereis om die dag op Mosselbaai te kom deurbring. Hulle het op die ingewing van die oomblik besluit om na die grotte op die St Blaize-staproete te stap, waar die voorval plaasgevind het.
Reddingspanne op water en land, insluitend twee helikopters en hommeltuie het verlede week na Van der Mescht gesoek.
VIDEO: Aflsuitingsgesprek en nabetragting na liggaam suksesvol herwin is
Foto's: Jannie du Plessis
Vorige artikels:
- Soektog na vermiste lewer steeds niks op
- Soektog na vermiste man weer uitgestel
- Vriende praat na 21-jarige onder water verdwyn
- Search for missing man continues
- Soektog na vermiste man gaan vandag voort
- Soektog na vermiste man uitgestel
- Helikopter deel van reddingspan na man van rotse val
- Soektog na 'n man wat van rotse val
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'