MOSSELBAAI NUUS - Sosiale media het die afgelope week gegons met besware teen die Mosselbaai-munisipaliteit se jongste kragtariewe en die wysiging in die tariefstruktuur vir elektrisiteitsverkope.
Inwoners het die beskikbaar-heidsfooi van R434 afgemaak as 'n geldmaakfoefie omdat die toename in alternatiewe energiebronne soos sonkragpanele meebring dat die munisipale fiskus minder inkomste uit kragverkope verdien.
Daar was ook ongelukkigheid omdat sommige beweer het dat hulle nie van die nuwe tariewe bewus was nie.
"Net soos lewenskoste, onder meer kospryse en brandstof styg, is die jaarlikse munisipale tariefaanpassing vir dienslewering onvermydelik," sê die munisipaliteit in 'n verklaring.
"Eskom vereis 'n tariefverhoging vanaf 1 Jul 2023 van 18,49% en kragtariewe moes noodwendig styg. Daarenteen is die munisipaliteit se aanpassing op kragverkope skraps meer as 14%."
Beswaarmakers het dit egter veral teen die gewysigde tariefstruktuur en die beskikbaarheidsfooi van R434. Dit plaas 'n addisionele en onbekostigbare las op inwoners, wat reeds sukkel om kop bo water te hou.
Eenvormigheid
In 'n nuusbrief wat Vrydag, 28 Julie versprei is, wys die munisipale bestuurder, Colin Puren daarop dat die beskikbaarheidsfooi (die R434) al die jare nog gehef is, maar deel gevorm het van die eenheidstarief.
"Die tariefstruktuur is verander sodat álle inwoners eenvormig behandel word. Die beskikbaarheidsfooi is nou van die prys per eenheid geskei en word apart gehef."
Puren wys egter daarop dat die prys per eenheid verlaag is en daarom nou selfs minder kos as in die vorige boekjaar. Eenhede kos nou 22 sent per eenheid minder - dis af van R2.66 per eenheid na R2.44.
Hy het ook daarop gewys dat, selfs met die gewysigde tariefstruktuur en aanpassings is Mosselbaai se kragtariewe steeds aansienlik goedkoper as dié van die buurdorpe George en Oudtshoorn.
Daar is hulp
Volgens Puren is die munisipaliteit nie hardvogtig nie en is daar deeglik besin oor hulp aan huishoudings om die kragpryse meer bekostigbaar te maak.
Puren wys daarop dat kwalifiserende pensioenarisse 'n korting van óf 'n 50%, óf 30% op die basiese beskikbaarheidsfooi ontvang, afhangend van hul huishoudelike inkomste en nooi inwoners om aansoek te doen vir die pensioenarisrabatte wat die munisipaliteit nog altyd beskikbaar gestel het.
"Ook die basiese beskikbaar-heidsfooi van R434 kan verminder word deur die ampère op jou stroombreker van 60Amp na óf 45Amp, óf 30Amp aan te pas," sê Puren.
Hy sê hierdie opsie is veral geskik vir inwoners wat nie so baie krag per maand gebruik nie. Hy wys daarop dat die meeste wonings oor stroombrekers van 60Amp beskik, maar gerieflik kan afskaal na laer ampère.
Deur hierdie wysiging te doen, kan die beskikbaarheidsfooi aansienlik laer aangepas word. Daar is normaalweg 'n fooi vir die afskaling, maar die munisipaliteit bied 'n amnestietydperk tot einde September waartydens die afskaling gratis gedoen kan word. Puren het inwoners genooi om hul huishouding se werklike verbruik te bereken en om met munisipale personeel te skakel vir advies en hulp met die proses.
Inwoners wat reeds deernisvoordele ontvang betaal nie die beskikbaarheidsfooi nie. Deernishuishoudings word deur die Nasionale Tesourie gesubsidieer en hul elektrisiteitstruktuur verskil deurdat hul tariewe aangepas word namate hulle meer krag verbruik.
Kommunikasie
Op besware dat inwoners nie vooraf oor die wysigings ingelig is nie, sê Puren dat die munisipaliteit sedert April volledig berig het oor die goedgekeurde konsepbegroting waarop inwoners hul insette kon lewer. Puren het inwoners genooi om hul persoonlike omstandighede met munisipale personeel op te neem.
"In baie gevalle is bewys dat die inwoner, selfs met die aparte beskikbaarheidsfooi bygereken, voorts selfs minder vir krag sal kan betaal, dit kan u loon om met die personeel te skakel. Kontak gerus óf Mithcell Zimri, óf Jannie Fourie van die munisipaliteit se finansies-afdeling kontak. (044 606 5000, of stuur 'n e-pos na admin@mosselbay.gov.za).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’