MOSSELBAAI NUUS - Na 'n sitting van 10 dae in die rondgaande hooggeregshof op Mosselbaai in die saak tussen die Staat en Thamsanqa Sishuba (27), het Regter Robert Henney op Dinsdag, 12 September vonnisoplegging gedoen.
Die gemeenskap van Groot-Brakrivier was in Junie 2016 werklik geskok na die wrede en grusame dubbele moord op geliefde inwoners van die dorp, Tewie (72) en Eurika (62) Human.
Tewie is in sy motorhuis by hul woning in Sandhoogtepad, sewe keer met 'n panga oor die kop geslaan. Die wonde was elk 35mm diep. Hy is letterlik doodgekap.
Eurika is eers gedwing om R14 000 vanaf die egpaar se bankrekening na 'n FNB-bankrekening in Lesotho oor te plaas, waarna sy met 'n mes in die nek en hart gesteek is.
Die moordenaars het die Humans se honde, 'n staffordshire-bulterriër en 'n yorkshire-terriër in die huis saam met Eurika se liggaam toegesluit en die motorhuis se deure is ook gesluit.
Tydens die verhoor het dit geblyk dat dié dade gepleeg is sodat die gemeenskap moet dink die egpaar is met vakansie.
Tewie het volgens 'n patoloog nog enkele dae na die aanval geleef.
Tewie en Eurika Human.
Dié bevinding is gemaak omdat sy liggaam tydens die nadoodse ondersoek nog "goed bewaar" was. Die nek- en borswond wat Eurika toegedien is, was fataal en sy is onmiddellik dood.
Eurika en Tewie (regs) saam met hulle twee dogters, twee skoonseuns en kleinkinders.
In die oë gekyk
"Staan asseblief," het Regter Henney tydens vonnisoplegging en ten aanskoue van die Humans se familie en vriende aan Sishuba gesê.
Regter Henney het Sishuba vas in die oë gekyk toe hy gesê het:
"Op aanklag 1, roof met verswarende omstandighede op Tewie, 15 jaar gevangenisstraf.
"Op aanklag 2, roof met verswarende omstandighede op Eurika, 15 jaar gevangenisstraf.
"Op aanklag 3, moord op Tewie, lewenslange gevangenisstraf en,
"op aanklag 4, moord op Eurika, lewenslange gevangenisstraf."
Die snikke van 'n familielid het in die hof weerklink terwyl polisiebeamptes 'n verdwaaste Sishuba na die aanhoudingselle geneem het.
Verligte familie van die Humans buite die hof na die vonnisoplegging: Danie Vos, Gerhard Pietersen en Francois Vos. Foto: Louise Karsten
Verkleurmannetjie
Sishuba het sy weergawe van wat op die dag van die moord gebeur het, drie keer tydens die verhoor verander.
Een van sy weergawes is dat sy vriend, Lebohang (Steven) Lekoro, wat voltyds vir die Humans gewerk het, hom gevra het om op die dag van die moord werk vir die Humans te doen.
Sishuba het deurentyd die skuld op Lekoro gepak en het aan Regter Henney gesê dat hy onbewus was van die moordplanne.
Regter Henney het egter tydens uitspraak dit aan Sishuba gestel dat die moord goed en vooraf beplan was en het dit beskryf as 'n daad van pure gierigheid.
Sishuba het eers 'n bekentenis aan die ondersoekbeampte, ao Gerald Rabie gemaak nadat ao Rabie hom met die toneel verbind het deur middel van 'n palm-afdruk. Teen daardie tyd het Lekoro reeds landuit na Lesotho gevlug. Lekoro is steeds op vrye voet.
Sishuba was tydens kruisondervraging deur die staatsaanklaer, Christhénus van der Vijver, aggresief en bakleierig. Hy het ook gereeld die hofverrigtinge probeer onderbreek deur in Sotho te begin praat terwyl Regter Henney met die regspanne gepraat het.
Regter Henney het Sishuba as 'n verkleurmannetjie beskryf en het gesê dat, indien hy van die begin af met die polisie eerlik was, daar 'n kans sou wees dat Lekoro vasgetrek kon word voordat hy landuit gevlug het.
Die Humans se huis waar die grusame moorde gepleeg is.
Regter Henney het dit aan Sishuba gestel dat hy geen berou oor sy dade getoon het nie en slegs jammer is dat hy uitgevang is.
Na afloop van die hofverrigtinge het familie van die Humans gesê dat hulle tevrede is met die sterk vonnis. "Ons sal egter eers gemoedsrus kry wanneer Lekoro ook vir sy dade boet," het die Humans se skoonseun, ds Gerhard Petersen gesê.
Sishuba sal volgens regskenners minstens 25 jaar gevangenisstraf uitdien voordat hy om parool kan aansoek doen.
Lees vorige artikels:
• Groot-Brak moordenaar swaar gevonnis
• Double murder: man found guilty
• Verdagte getuig vandag
• Eurika Human vermoedelik dadelik dood
• Human-moorde: verdagte pleit onskuldig
• Human-moorde: hofverrigtinge 'emosioneel'
• Groot-brak dubbele moord: familie by hof
• Dubbele moord: verdagte vandag in hof
• Groot-Brak-moorde: saak uitgestel
• Gru-moorde: Man in hof vir borgaansoek
• Opvolg: Verdagte in hof vir gru-moorde
• Groot-Brak gru-moorde: Verdagte in hof
• Verdagte vir Groot-Brak-egpaar se moord aangekla
• Opvolg: Verdagte vir Groot-Brak gru-moord
• Man vir Groot-Brak gru-moorde gearresteer
• Groot Brak gru-moorde: Roudiens Dinsdag
• Groot Brak gru-moorde: Honde bly agter
• Groot Brak gru-moorde: Skoonseun praat
• Groot Brak gru-moord: Ondersoek duur voort
• Opvolg: Groot Brak gru-moord
• Opvolg: Groot Brak-egpaar wreed vermoor
• Groot-Brakrivier-egpaar wreed vermoor
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'