GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Heidi Hobbs (51) se vier susters en ander familie en vriende het net voor Kersfees blommekranse by die plek gaan sit waar sy 'n maand tevore, op Vrydag, 25 November dood is, nadat sy deur 'n motor getref is.
Heidi se seun, Heinrich, wat in Pretoria studeer, het pas huis toe gekom vir die Desember-vakansie en hulle het besluit om die oggend by die Groot-Brakstrand deur te bring voor hulle na Greenhaven sou terugstap waar haar susters bly en waar Heidi grootgeword het.
Heidi, Heinrich en kleindogter Edlizaan (6) wat bedags by Heidi gebly het, het ongeveer 12:30 by De Dekke oorkant die Spar oor die N2 beweeg toe hulle deur 'n voertuig wat van rigting George oppad was, getref is.
Heidi is op die toneel dood, haar seun Heinrich het beserings aan sy bene opgedoen en Edlizaan het kopbeserings opgedoen. Altwee is na die hospitaal geneem waar Edlizaan 'n paar dae moes oorbly weens haar beserings.
Volgens Geraldine James, een van die susters, gaan dit baie swaar met die familie en mis hulle hul suster geweldig. Geraldine sê: "Die kleindogter is nou 'n ander mens. Weens die trauma kan sy nie haar ouma of die ongeluk onthou nie. Ons is baie hartseer."
Heidi Hobbs (51) se familie plaas 'n blommekrans by die plek waar sy oorkant De Dekke op die N2 gesterf het, nadat sy deur 'n motor getref is.
Vorige artikels:
- Heidi Hobbs verbyrit 8 Desember
- Vrou wat naby De Dekke doodgery is, se naam bekend
- Vrou dood, kinders beseer toe voertuig voetgangers tref
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'