MOSSELBAAI NUUS - Die familie van 'n 76-jarige pasiënt wat aan Alzheimer se siekte lei en by 'n plaaslike sorgsentrum tuisgaan, het 'n saak van verkragting by die polisie aanhangig gemaak, nadat beeldmateriaal van die beweerde misdryf gevind is.
'n Vyf-en-sestigjarige familievriend, wat die pasiënt gereeld kerk toe geneem het, is kort na die voorval van verkragting aangekla. Die verdagte, wat getroud is, woon op Hartenbos en was saam met die familie in dieselfde kerk.
Hy is intussen vrygelaat, hangende 'n uitstaande doktersverslag om die slagoffer se mees onlangse mediese toestand te bepaal. Volgens 'n polisiewoordvoerder sal die jongste verslag by die dossier gevoeg word, waarna die saak weer op die hofrol sal kom en die verdagte gedagvaar sal word om voor die hof te verskyn.
'Ons het hom vertrou'
Die slagoffer se dogter werk op Mosselbaai en sê sy is dankbaar vir die spoedige optrede van die sorgsentrum, wat in die versorging van pasiënte met Alzheimer se siekte spesialiseer. "As dit nie vir hulle was nie, sou ons nooit hiervan geweet het nie." Sy sê haar ma is reeds 'n jaar in die sorgsentrum woonagtig en die verdagte was 'n gereelde besoeker.
"Ons het geen rede gehad om die verdagte nie te vertrou nie. Ons ken hom reeds jare en hy het tydens my pa se siekbed my ma gereeld hospitaal toe geneem vir 'n besoek. Ons het hom vertrou."
Die beweerde verkragting het onlangs op die lappe gekom toe 'n verpleegster by die sorgsentrum die vrou by haar kamer geroep het vir ete. Die verdagte het glo die kamerdeur toegedruk waarna die verpleegster die matrone geroep het.
Hierna is beeldmateriaal van 'n kamera wat in die slagoffer se kamer geïnstalleer is nagegaan. Die beeldmateriaal dui daarop dat die verdagte die pasiënt op Sondag, 9 September en weer op Maandag, 10 September verkrag het.
Die verdagte beweer egter dat die vrou daartoe ingestem het. Haar dogter sê die verdagte ken haar ma reeds etlike jare en het geweet sy is siek.
"Hy weet wat haar toestand is en boonop is hy getroud met 'n dierbare vrou. Ek moes drie dae stresverlof vat nadat ek gehoor het wat met my ma gebeur het. Dit is vir my 'n geweldige skok."
Die sorgsentrum het die verdagte onmiddelik die perseel belet. "Ek kan net dankie sê vir die wyse waarop hulle die voorval hanteer het." Sy sê hulle gaan die saak nie net los nie en wil sien dat dit in die hof aangehoor word.
* Die identiteit van die slagoffer en haar dogter word op advies weerhou. Die identiteit van die verdagte is aan die Mossel Bay Advertiser bekend, maar word weerhou totdat die verdagte op die aanklag teen hom gepleit het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'