Advertorial
SAKE NUUS - Mense wat in 'n motorongeluk was verstaan nie altyd dat daar verskillende rolspelers mag wees en dat hulle verskillende funksies vervul nie. “Die polisie was alreeds by my om 'n verklaring af te neem” moet regspraktisyns gereeld hoor as 'n beëdigde verklaring opgestel moet word in 'n siviele saak wat voortspruit uit dieselfde motorongeluk.
Die vraag is wie almal 'n rol speel en watter rol vertolk word deur elke rolspeler?
Polisie
Eerstens is dit vir die polisie belangrike om inligting te kry wat hulle in staat sal stel om te bepaal hoe die ongeluk plaasgevind het en wie daarvoor aanspreeklik gehou moet word. Die polisie se ondersoek bepaal of 'n persoon krimineel aangekla sal word van 'n verkeersoortreding en/of 'n misdaad soos roekelose en/of nalatige bestuur of strafbare manslag (selfs moord).
Korttermyn versekeraars
Die korttermyn versekeraar word betrek waar skade aan 'n voertuig of ander eiendom aangerig word. Verklarings van hoe die ongeluk gebeur het en die skadebepaling (assessore en paneelkloppers) word normaalweg gebruik in die proses. Polisieverklarings en botsingsverslae word ook soms aangevra as bewysmateriaal.
Indien 'n persoon nie oor korttermyn versekering beskik nie of 'n dispuut ontstaan oor die meriete van die ongeluk of omvang van die skade, stel persone (versekeringsmaatskappye) dikwels siviele eise in. Hierdie proses kan weereens beteken dat verklarings en bewysmateriaal bekom word om die eis te bewys. Dokumentasie van die polisie kan hierin gebruik word maar is nie 'n absolute vereiste nie.
Padongeluksfonds
Eise vir persoonlike beserings en dood van afhanklikes word ingestel teen die Padongeluksfonds. Hierdie proses behels 'n afsonderlike ondersoek waartydens beëdigde verklarings bekom word.
Die polisie se verklarings en bewysmateriaal kan gebruik word, maar is dit nie 'n vereiste dat die staat iemand moet aankla en suksesvol vervolg voordat hierdie eise ingestel kan word nie. Inteendeel die staat se ondersoek na 'n misdaad speel 'n beperkte rol en die regspraktisyn wat 'n eis teen die Padongeluksfonds hanteer het beperkte navrae na die uitslag van die strafsaak.
Slegs indien 'n persoon gedood word in 'n motorbotsing, raak dit noodsaaklik om die uitslag van die geregtelike doodsondersoek of die kriminele vervolging te bekom om 'n suksesvolle eis teen die Padongeluksfonds in te stel.
Vergoedingskommissaris
Indien 'n werknemer gedood of beseer is in 'n motor ongeluk onderwyl aan diens, word eise ingestel teen die Vergoedingskommissaris en 'n afsonderlike ondersoek word geloods. Dissiplinêre optrede teen 'n werknemer wat in die loop van sy diens 'n motorongeluk veroorsaak het kan natuurlik ook aanleiding gee tot 'n aparte ondersoek wat die insameling van bewysmateriaal (verklarings, dossierinhoud en botsingsverslae) kan behels.
Vir enige verdere inligting kan u gerus Barend Kruger van Rauch Gertenbach Prokureurs kontak by 044 601 9900 of office@rgprok.co.za ; www.rgprok.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Moselbaai, Tuinroete nuus'