BLOG - So, blykbaar word ons omgekoop.
Glo deur raadslede van die Mosselbaai-munisipaliteit.
Ons, menende die Mossel Bay Advertiser.
Kyk, dis nou nogal nuus vir my. En vir my kollegas én my bankrekening. Vreemd poëties, aangesien nuus nou maar basies ons posbeskrywing is.
Die dryfkragte agter die gerug maak ook geen geheim daarvan nie. Sommiges fluister daaroor saam met honde, ander basuin dit op Facebook-groepe uit, of, my persoonlike gunsteling, sommer direk à la stemnota.
Dit het my nogal onlangs terwyl ek Cater-pillar-spoed op Louis Fourie ry laat wonder of ek nie dalk by my bank moet inloer nie. (Caterpillar soos die konstruksievoertuig, nie die ruspe nie, alhoewel dit partykeer voel of hulle ewe vinnig beweeg... maar hulle gee jou nogal tyd om oor jou dag te reflekteer.)
Nou't ek al gedink, miskien het die betaling êrens vasgehaak? Of miskien kom die beta-lings in sarsies van minder as R100, dís dalk hoekom ek nie SMS'e kry nie.
Gits, dalk het hulle die rekeningnommer verkeerd! En ek sal ook glád nie verbaas wees as die verkeerde spelling van my naam dalk êrens 'n rol speel nie. In hierdie dorp was ek al enigiets van Linzette en Lizetta, tot Lizette en Lynette...
Dalk moet ek maar volgende keer dat die Caterpillar onder my uit ry en by Langeberg se Capitec gaan inloer, want so kan 'n mens nie in die duister leef nie.
Of toemaar, weet jy wat, ek vra sommer by die volgende raadsvergadering! Dan is die hele lot raadslede sommer bymekaar - al die vlieë met een klap.
Êrens sal ons hierdie ding moet uitsorteer, want tans kry nie ék of die betaler(s?) waar-de vir hulle geld nie.
Intussen sit ek en my kollegas maar en wag vir die geluid van die voedselversapper - vir die maak van 'n Vendetta-smoothie.
Die bestanddele is soos volg:
• 3 raadslede (voeg meer of minder by na smaak)
• 2 munisipale amptenare
• Soveel joernaliste as wat jy kan kry
• Facebook-plasings en/of -kommentaar na smaak
• Mengsel van gerasperde raadsagenda en regsdokumente (vir garnering)
Metode:
• Plaas eerste vier bestanddele in voedselversapper.
• Meng saam vir die gemiddelde tyd van 'n ongemaklike lang stemnota, of tot glad.
Ns: Ingeval dit onduidelik was: néé, ons word nie omgekoop nie. Ek verstaan mense het hulle kwessies met diegene in beheer, maar ek kan jou belowe, liewe smoothie-liefhebber, net so min soos jy van sommige van daai bestanddele hou, so min hou hulle ook soms van ons.