BLOG - Ek dink nie ek het sosiale media al ooit so intens verwens soos die afgelope aantal maande nie. Ek dink ook nie ek het al ooit soveel weergawes van die waarheid gehoor as die afgelope aantal maande nie. Maar verwens soveel as wat ons wil, en gal braak oor al die verskillende samesweringsteorieë soveel soos ons wil, gaan niks aan die waarheid verander dat niemand kans gehad het om vir hierdie een te oefen nie.
Geen regering ter wêreld het al 'n oefening van sy ganse bevolking gehad om hulle voor te berei op wat Covid-19 op ons koppe omgekeer het nie.
Ek onthou hoe ons destyds onder die vreemde vorige politieke werklikheid as jong skoolseuns Vrydae met kadet-uniforms skool toe moes gaan. Hoe ons gewaarsku is oor die kommuniste en sataniste en hoe ons op skietbane geoefen het en ontruimingsplanne seepglad uitgevoer het.
Ek onthou hoe ek as nasionale dienspligtige moes oefen om op teikens wat soos mense gelyk het, te skiet. Ons lewens is vol oefeninge om ons op verskillende situasies voor te berei. Ons het egter nooit geoefen om nêrens te kan gaan nie, om met maskers rond te loop en om deur derduisende brokkies inligting te sif in die hoop om die waarheid op te spoor nie.
Gelowiges in ons land het nooit geoefen om te aanbid sonder om kerk toe te mag gaan nie en kinders het nog nooit geoefen om vir drie maande by die huis te sit en om uiteindelik op speelgronde nie touch-rugby en jaagentjies te mag speel nie. Ons het ook nooit geoefen om op 'n seevakansie te gaan en net vir die see te sit en kyk nie.
Ja, ons regering en ander regerings het met die uitbreek van die virus geleentheid gehad om voor te berei, om te sorg vir genoeg beddens en ventilators en werklose Kubaanse dokters is ingevoer om te help (Terloops, wat het van hulle geword?) Ek onthou nog hoe die president aangekondig het dat die eerste ongenaakbare en finansieël-vernietigende inperking letterlik die duiwel by die deur gestuit het.
Maar dit was toe nie so nie, want die verdomde virus hou aan om die doelpale te verskuif.
Eers was dit ouer mense en die jongeres het gesug van verligting, toe was dit onderliggende toestande soos om vet te wees of hoë suiker of - bloeddruk te hê en toe skielik raak jong mense siek en skielik beswyk twee lede van 'n gesin binne 'n week na mekaar aan die virus.
Hoe oefen 'n mens vir so iets? Hoe oefen 'n regering vir so iets? Hulle kan nie. Dit sal natuurlik help as 'n regering nie toelaat dat miljarde rand gesteel word en dat yskaste se deure oop vergeet word sodat miljoene rand se medisyne vrot word nie. Ongelukkig lyk dit vir my of die enigste oefening wat nou vrugte afwerp, die oefening is om korrup te wees.
Met hierdie gesanik probeer ek verduidelik waarom ek deesdae sosiale media verpes. Dit maak nie saak waar of wat jy lees nie, iewers is iets wat skok. Dalk is sosiale media en die internet nie een of ander sameswering deur die illuminati of wêreldorde nie, dalk is dit ons planeet se sameswering teen ons as mens wat besig is om alles te vernietig.
Dalk is hierdie virus deel van die heelal se strategie om ons in die bek te ruk. Om vir ons te wys hoe maklik ons verwar kan word, mekaar wantrou en hoe onbetroubaar elkeen van ons eintlik is. Dalk, bloot om vir ons te wys hoe uiters nietig ons werklik is.
Foto: Morning Brew, Unsplash