Of mense nou keer op keer belieg word oor geld wat uit onbekende bronne in hulle skote gaan val of belowe word dat hulle kitsmiljoenêrs kan word, is dit duidelik dat hulle hul nie aan die feite steur nie.
Die afgelope vier jaar berig ek keer op keer oor die beloftes van die Oppiespoor-groep wat mense wat selfs nog nooit tot enige fonds bygedra het nie, oortuig dat daar iewers derduisende rande in 'n geheime surplusfonds lê en wag.
Al wat nodig is, is 'n registrasiegeldjie van R250 en dan moet jy wag vir 'n uitbetaling.
Van daardie mense wag al langer as vier jaar en klou steeds vas aan die hoop van 'n onverdiende klein fortuin wat volgens Oppiespoor se agente vir hulle "opgespoor" is.
Selfs die feit dat meer as 300 name aan die polisie gegee is, met 'n versoek om die hele kwessie te ondersoek, laat mense se hoop in die uitbetaling nie wankel nie.
Ek hoor die nuutste is nou dat die uitgebuitenes glo 'n SMS gaan ontvang waarvolgens hulle dan poskantoor toe moet gaan. By die poskantoor sal hulle glo 'n papier kry wat hulle Absa-bank toe moet neem vir 'n uitbetaling. En, Abrakadabra, daar vlam die hoop weereens op. Nou wonder ek hoe lank gaan hierdie nuwe hoop nie beskaam nie.
En wat het van al die Crowd1 kitsrykes geword? Toe ek 'n klompie maande gelede berig dat Crowd1 al die tekens van 'n piramidekskema toon, is ek deur 'n hele klomp Crowd1-lede uitgekryt as 'n valse profeet wat mense die wettige kans om 'n geldjie te verdien, wil ontneem.
Ek wag nou nog vir die dagvaarding van "Legal" waarmee een van die aanvanklike geldskeppers van Crowd1 my gedreig het. Selfs nadat 'n span ondersoekende joernaliste van BBC Africa Eye met hulle ondersoek van ses maande bevind het dat Crwod1 'n reusefoefie is, is daar steeds mense wat daaroor stry. En, dié wat geld gemaak het en dié wat geld verloor het, is ewe tjoepstil.
Kom ons gaan oor die waters vir nog 'n voorbeeld. Of Donald Trump 'n puik president of 'n narsistiese nar is, is elkeen se eie opinie, maar wat verstommend is, is die derduisendes wat weier om die verkiesingsuitslae te aanvaar. Maak dit vir enigiemand sin dat die verkiesing in die state waar Trump gewen het, regverdig en wettig was, maar in al die state waar hy verloor het, was die proses en uitslae gekook?
Dan is daar 'n verdere interessante verskynsel wat op sosiale media te voorskyn kom. Dosyne mense wat te velde trek teen die "onregverdigheid" teenoor Trump en wat hom steun in sy verbete ontkenning van die stelsel is hewig gekant teen Zuma wat al sy wandade ontken.
Dalk is dit net ek, maar dis nogal verwarrend dat dieselfde mense wat een persoon se hardnekkige ontkenning steun, 'n ander persoon wat presies dieselfde doen, wil verdoem.
Dalk is die oplossing vir al hierdie kwessies eenvoudig. Mens moet maar net aanvaar dat mense sukkel om verby hulle eie lugkastele te kyk. As die gedagte van kitsrykdom, 'n meevallertjie uit 'n onbekende bron of 'n onregverdige stelsel eers posgevat het, vlieg gesonde verstand by die lugkasteelvenster uit.