Daar word dikwels gespot met mense se uitlatings op Facebook en die sambok word nie gespaar in reaksies op kommentare nie. Soms wonder ek of dit nodig is om so kras te reageer op sommige mense se uitlatings, maar dan kyk ek uit ‘n ander hoek daarna.
Wanneer iemand besluit om iets in die openbaar te sê is dit sy of haar keuse of dit deurdag en dalk met ‘n bietjie moeite gedoen moet word en dan moet mens seker nie moeilik raak as jy met kommentare gepeper word nie.
Is daar ‘n verskil tussen die uitlating van ‘n bekende persoon op sosiale media en die van Jan Alleman wat bloot iets vra? Ek weet nie, maar kom ons kyk na twee voorbeelde.
‘n Bekende sanger plaas ‘n boodskap dat hy ‘n groot vertoning op ‘n spesifieke dag gaan hou en ‘n dag later plaas hy ‘n dringende versoek vir ‘n geskikte venue om die vertoning te hou, want hy het nie daaraan gedink om eers ‘n venue te bevestig voordat hy die datum aangekondig het nie.
Is daar ‘n verskil tussen hierdie persoon en ‘n ouer wat sywurms vir sy kind soek, talle kry en dan die volgende dag naarstigtelik na iemand soek wat ‘n moerbeiboom het vir kos vir die sywurms? Ek dink nie so nie.
Alhoewel verskillende mense op verskillende platforms en vlakke beweeg is daar tog ‘n goue draad van oorsaak en gevolg.
Ek dink nou aan Donovan Tooth se video waarin hy al vloekend vir drie minute te velde trek teen vrouens wat oorgewig is. Mens moet in die tydvak waarin ons leef, vra wat sou met hom gebeur het as daardie uitlatings byvoorbeeld rassisties was.
Daar is vir my geen verskil tussen dit wat hy gedoen het en dit wat ‘n burgemeester in die Vrystaat byvoorbeeld oor ‘n bevolkingsgroep se gewoontes kwyt geraak het nie.
Joan Hambidge het Maandag in Die Burger in haar resensie van ‘n digbundel onder ander te velde getrek teen sogenaamde Facebook-digters wat voel hulle moet toegelaat word om enige snert op Facebook te plaas en dat uitgewers teen hulle diskrimineer. Sy was reg.
As ‘n digter besluit om ‘n gedig in die openbaar te publiseer moet hy besef die leser is nie net sy vriende en kennisse nie - Joan Hambidge het ook Facebook.
‘n Aantal jare gelede het ons ‘n berig op ons koerant se Facebook-blad gehad oor ‘n hondjie wat doodgesteek is toe ‘n skelm in ‘n erf wou inkom. Die hele berig was daar en daar was dosyne kommentare oor die misbaksel wat die pragtige hondjie se lewe beëindig het en daar, tussen al hierdie emosie-belaaide menings vra iemand, “Ag shame, is die hondjie darem okay?”
Hierdie week plaas ons ‘n berig oor ‘n persoon wat sedert die naweek vermis was. Presies nege minute na die plasing vra iemand, “Het hulle haar nou al gekry?”
Dalk moet ons nie vra of die hondjie okay is nie, dalk moet ons vra of ons almal okay is om menings te lug.
Ek moes ook al ‘n aantal kere vinnig skarrel om iets te verwyder wat ek in ‘n onnadenkende oomblik geplaas het.
Die feit is, elkeen van ons is in beheer van wat ons in die openbaar sê of doen. Ons moet net ‘n bietjie meer moeite doen.
X hp hirdi bdskap wird deer almal waardeur want ek wil ok ma net se hu x vul en ok te lt wt di honkie is ouky.
Foto: Tim Bennett, Unsplash