Dekades gelede het Antie Stienie elke week op die televisie in Agter elke Man met haar krullers en haar siegret oor haar voorhekkie in Jan Hofmeyer gehang, en gesê: "Ek weet ok nie vir wat ek altyd so moet suffer nie."
En dis die vraag waarvoor elkeen van ons elke dag toenemend moet antwoorde soek. "Hoekom moet ons so suffer?" en dan is daar 'n ellelange lys van redes wat meestal ander mense en veral die regering en spesifiek die ANC insluit. Maar daar is ook ander goed op die lys soos die droogte, die simpel virus, Donald Trump, die sataniese Liewe Heksie en Harry Potter, die gays, die Guptas, die Antichris, die liberaliste en dan natuurlik die verfoeilike onbetroubare en omkoopbare media wat bloot sensasie jaag en in die sakke van illuminati en wêreldorde-oorheersers woon.
Ja, aan oorsake vir ons suffering is daar geen einde nie. Ek het my eie rede vir suffer. Ek steur my te vinnig en te veel aan ander mense se uitlatings en al sien my vrou die tekens en al kom sit sy 'n glas rooiwyn langs my neer en herinner my daaraan dat almal die wêreld nie soos ek sien nie, kan ek myself nie keer nie. Voordat ek my kon kry het ek gereageer. Soos verlede Sondagaand toe ek in 'n telefoonargument met 'n skaduminister van 'n politieke party betrokke geraak het. (Ek het eers later uitgevind hy is 'n skaduminister).
Toe my vrou sien ek lees 'n persverklaring van die spesifieke politieke party waarvan die man 'n skaduminister is, en sy kom uit my brommery agter dat 'n brand op 'n boer se plaas waaroor ek berig het, gebruik word vir politieke punte, het sy my weer herinner om nie te reageer nie. Sy was egter te laat. Ek het probeer verduidelik dat die polisie wat as onbetrokke en apaties deur die persverklaring uitgebeeld is, snert is, en dat die man eintlik eerder moes vra hoekom 'n krimineel wat al verskeie kere deur ons plaaslike polisie in hegtenis geneem is, as deel van die president se kwytskelding weer vrylik rondloop en goed aan die brand steek. Nou ja, nodeloos om te sê het my gesprek met die persoon nie goed afgeloop nie.
So, my rede vir suffer is dat ek eenvoudig nie my mond kan hou nie. Wat is jou rede? Is dit dalk omdat jy steeds glo ons land gaan eendag weer deur 'n PW regeer word? Is dit dalk omdat jy glo elke vorige recce moet die geweer opneem en almal wat anders is, skiet? Is dit dalk omdat jy nie een enkele familielid, vriend of vyand ken wat aan Covid-19 beswyk het nie en glo dat die dra van 'n masker 'n ANC-komplot is om jou stadig te versmoor? Dalk suffer jy omdat jy glo almal om jou is dom en jy het al die antwoorde. (Noudat ek daaraan dink, dit is my rede vir suffer, so kies vir jou 'n ander een – dié een is reeds geneem).
Kom ons wees eerlik, werklike lyding is werklik. Die droogte, die plaasmoorde, die werkloosheid, honger, siekte – als is werklik en dit is lyding. Maar Antie Stienie se suffering wat elke dag deel raak van ons mantra is ons eie persepsies, ons eie aannames en ons eie onvermoë of dalk onwilligheid om ons eie gesonde oordeel te gebruik en dinge in perspektief te stel en te sien.
Foto: Pinterest