Ek voel die laaste ruk vreeslik negatief oor mense.
Dit onstel my verskriklik dat mense, oor die algemeen, so bitter en rassisties is (veral op sosiale media) en dat so baie net nie meer omgee oor hul medemense nie.
'n Groot deel van my werk is om Facebookbladsye te bestuur en ek raak die laaste ruk onsettend ontsteld oor goed wat ek lees. Ek weet nie hoekom ek toelaat dat dit my so onderkry nie, maar ek voel net negatief.
Behalwe die negatiewe kommentare en uitlatings, voel dit vir my of meeste mense net leef net vir hulself (of vir geld).
Dan ook word baie (goeie) mense uitgebuit, skelms besteel mense vir wie ek omgee en mense wat dit nie verdien nie, word ingedoen... alles raak net te veel.
Toevallig het my pa (wat in Oudtshoorn bly) dieselfde gevoel, maar hierdie naweek het iets met hom gebeur wat my (en hom) weer hoop gegee het... Hoop dat daar nog mense is wat omgee, mense wat bereid is om iets vir iemand anders te doen sonder enige vergoeding. Mense wat nog weet van menswees!
Ek deel graag my pa se ondervinding hieronder;
Gister raak ek sommer omgekrap oor al die negatiwe goed waaroor ons elke dag lees; skelms, uitbuiters, oppurtuniste, egomane en en en... En ek is amper lus en verloor vertroue in mense.
Vandag kry ek skielik 'n ander perspektief.
Ek gaan Checkers toe vir n paar goed. Uit gewoonte van 36 jaar saam koop ek en Manda nie 'n trollie goed nie. Ons koop nog altyd twee of drie dae vooruit. Vandag doen ons haar ma se inkopies en terwyl ons besig is sommer 'n klomp goed vir ons ook, want die week lê besig voor.
Met 'n hele trollie en 'n mandjie vol wil my kaart nie werk nie. Verleentheid. Ek vra verskoning, hol ATM toe om geld te trek. Kaart wil steeds nie. Ander kaart lê by die huis. Kredietkaart uit en wragtig, na maande se ongebruik het ek die PIN vergeet.
Terug kassier toe om te verduidelik ek gaan gou huis toe jaag vir ander kaart.
Toe keer die man wat ek gereeld sien, maar wie se naam ek om die dood nie kan onthou nie, my voor, vra of hy solank kan help en betaal - die hele bedrag. Maar hy weier toe om sy besonderhede vir my te gee.
Ek sien hom gereeld, en dit sal my byval want ek wil hom terugbetaal. Maar vir nou, vir hom: Baie dankie.
Terwyl daar berig word oor als wat verkeerd is, gebeur hierdie goed met ons en skielik onthou ek om anders na alles te kyk.