Die wêreld het mense nodig wie se woord hul eer is, wat karakter hoër ag as geld, wat hulle eie opinies het, maar ook na ander s’n luister, wat nie kompromieë aangaan met eerlikheid en moraliteit nie, wat nie glo dat gladde woorde en leë beloftes die beste kwaliteite vir sukses is nie, wat nie huiwer om die waarheid te praat nie- selfs tot hulle eie nadeel en selfs as dit 'n ongewilde waarheid is.
In Joernalistiek is dit noodsaaklik dat jou woord jou eer is, jy karakter van waarde skat en natuurlik nie kompromieë aangaan met eerlikheid en moraliteit nie. Die belangrikste is vir my dat die waarheid uit jou pen vloei - self tot jou eie nadeel en ook as dit ;n ongewilde waarheid is. In 'n klein gemeenskap kan dit jou ongewild maak en ook vir meer vyande as vriende sorg.
Deur die jare het die waarheid uit my pen dit punt bevestig - mense hou nie daarvan dat hul vir misdaad, oortredings of wangedrag ontbloot word nie, al skryf jy woord vir woord die waarheid is die joernalis die een wat uitgekryt en verwyt word.
So is daar heelwat inwoners wat my as joernalis sal omry juis omdat ek ongewilde waarhede berig het - al weet hulle dat dit wel die waarheid was. Aan die begin van my loopbaan het dit my gepla, maar na 14 jaar in die bedryf het ek besef dit kom met die grondgebied. Mens doen nie die tipe werk vir gewildheid nie, ja mens moet aanvaar word deur die gemeenskap, maar aan die einde van die dag is dit 'n joernalis se taak om ten alle tye die waarheid te berig.
Dit is waar moraliteit inkom: Moraliteit is die bepaling van wat reg en verkeerd is.