"Die Here het neergekyk op Sy skepping en besef dat Hy iemand sal moet maak wat kan omsien na die aarde. 'n Gewone man, sou nie doen nie. Dit sal 'n man moet wees wat voor die son kan opstaan en met sy hande in die grond kan werk. 'n Man wat nie omgee oor die ure van die dag as die son die sweet van sy rug afbrand nie. 'n Man wat kan draad span, kampe bou, water kan soek en vir die diere bring en met sy grof gewerkte hande die sweet van sy wenkbroue kan afvee en verder werk. En toe, maar die Here 'n Boer..."
Dié gedeelte kom uit Adam Tas se 'Toe maak die Here 'n boer'.
Die veldbrand wat in Januarie meer as 22 000 hektaar en eiendom verwoes het, het heelwat boere in die Hessequa-distrik geraak met grootskaalse verliese. Hoewel dit 'n groot ekonomiese terugslag is, is hulle vasberade om weer op te bou wat verloor is.
In gesprek met drie boere van die distrik het elkeen positief vertel dat hoewel hulle weiding, vee, riet en infrastruktuur verloor het, is almal besig om weer in te spring en op te bou waar nodig. Dit is deel van boer wees, jy staan sterk in die goeie en slegte tye.
Fanie Kleynhans van Wolwekoppe woon weer op sy grond en is besig om 'n nuwe huis op te rig, maar sal hy eers weer oor 10 jaar 'n riet-oes hê. "Daar is nog riet, maar kan ek nie nou sny nie."
Chris en Leonore Pretorius van Bouerskloof op Blombos is druk besig om heinings op te rig en is hul nuwe waterpype reeds gelê. "Ons elektriese pomp werk weer, die veld is besig om reg te kom, maar hou ons nog ons skape en ander vee op kraal. Ons voer hulle nog."
Fanie Joubert van die plaas Vorentoe is baie rustig. "Daar is geen druk nie, ons gaan aan. Tans het ek geen vee of voer nie en gaan ook nie weer bou nie. Ons is spyt oor die twee ou huisies wat verwoes is, maar ons kyk vorentoe."
Wat wel hartseer is, is boere in hul latere jare wat nie weer die riet-oes wat hul verloor het sal kan terugkry nie. Een so boer naby Klipfontein het verduidelik dat dit 10 jaar neem vir riet om behoorlik te herstel en dat hy nie sien hoe hy wat in sy laat sewentigs is, dit sal kan doen nie. Hy sit nou met 'n plaas wat nie die jaar gaan produseer nie.
Stilbaai Sakekamer het 'n noodfonds gestig om boere wat deur die brande geraak is, te help. Van die gesinne wat alles verloor het, is reeds gehelp met kos, terwyl daar ook beplan word om lusern en voer vir die beeste en skape aan te koop.
Die boere en plaaslike gemeenskap het tydens dié tragedie hul menswees gewys en uitgereik na mekaar - water en kos is aangery, vure is geslaan, somtyds vir ure aaneen in moeilike omstandighede. Hoewel duisende hektaar nou kaal en dor is, weiding en vee verwoes is sal die boere weer ploeg, plant en vee op hul grond vestig, want dit is in die murg van 'n boer. Hy sien die potensiaal om uit niks weer op te bou en voort te boer.