As 'n nuwe bonus-mamma (ek verpes die term 'stiefma') is dit 'n aanpassing om ewe skielik 'n kind te hê om in ag te neem. Ek sou nooit kon dink het dat op die ampere ouderdom van 45 dié titel of 'kroon' sou dra nie!
Ja, die hele idee is nog nuut vir my en is ek dankbaar vir 'n wonderlike skoonma en skoonsussies wat my graag advies gee en bystaan, so ook my aanstaande - aan die einde van die dag gaan dit tog om seker te maak die nuwe gesin werk vir almal.
Sedert dit bekend geword het dat ek nou dié status beklee, was daar heelwat doemprofete met meeste wat slegs die negatiewe kon uitwys, soos 'jy sal nooit werklik 'n ma wees vir die kind nie, jy sal aandag moet deel, jy gaan altyd tweede kom en die regte ma eerste.' Gelukkig vir my het ek en my aanstaande dit reeds deurgepraat en besluite om dit te laat werk geneem - ons leef tog in 'n moderne samelewing waar nie elke familie uit die biologiese ma of pa bestaan nie.
Ek weet ek sal nooit my bonus-dogtertjie se biologiese ma wees nie, maar ek wil ook nie. Sy het 'n ma en ook 'n baie goeie ma wat daardie skoene volstaan. Inteendeel, ek het van dag een vir haar verduidelik dat ek haar bonus-mamma is en nie haar stiefma of ma nie en ook dat ek nie van plan is om haar ma te vervang nie - dis nie my wens, doel of plek nie.
Hoewel ons nie dieselfde DNA deel nie, is sy deel van my lewe en sal vir altyd wees. Ek is tog lief vir haar pa en sy kom saam met daardie pakkie. Vandag besef ek hoeveel vreugde 'n kind in mens se lewe kan bring, veral een wat nie my vlees en bloed is nie, maar wel my hart gesteel het. Daarom het ek van dag een besluit toe ek met 'n geskeide man wat 'n kind het betrokke geraak het, dat ek 'n bonus-mamma sal wees in plaas van 'n stiefma - die woord stief klink iedergeval kras en kwaai volgens my.
Wanneer jy jouself as 'n bonus-mamma sien, benader jy die rol anders. Jy het die potensiaal om 'n geskenk in daardie kind se lewe te wees, 'n ekstra stel ore, nog 'n skouer om op te huil, nog 'n paar hande. Mens kan 'n baie spesiale en unieke verhouding met jou bonus-kind opbou, want al is jy nie die biologiese ouer nie, sal hul wel jou mening op prys stel en selfs jou advies waardeer. Uiteindelik is die beste wat jy vir 'n bonus-kind kan doen om vir hul 'n gesonde verhouding te wys deur 'n liefdevolle vennoot vir hul pa of ma te wees, asook hoe om volwasse te wees deur gesonde mede-ouerskap tussen jou en jou metgesel en die biologiese ouer van die kind na te streef.
Ek sien my bonus-dogtertjie is 'n geskenk van die liewe Vader en deel van Sy plan om my te seën met 'n spesiale mensie in my lewe waarvoor ek lief kan wees, kan omgee en die beste bonus-mamma voor kan wees.