Bewustheid, vriendelikheid en egte omgee vir jou medemens is skaars, veral in hedendaagse tye waar haat, persoonlike griewe en bewuste seermaak so maklik 'n mens se bestaan kan oorskadu.
Dit is nie aldag maklik om in vandag se samelewing bloot 'n goeie mens te wees nie - soms verg dit werk en diep introspeksie, dit vat ware vergifnis en medemenslikheid - iets wat mens somtyds net regkry met ware geloof en genade.
Om te vergewe is nie altyd maklik nie. In die Bybel beteken die Griekse woord 'vergifnis' letterlik 'om te laat vaar'. In Jesus se woorde word dit die maklikste omskryf: "Vergewe ons, ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat by ons in die skuld is." Woorde wat maklik geuiter kan word, maar dikwels vat dit baie meer van jou om dit te doen - om eerlik te kan sê dat jy iets of iemand waarlik vergewe. Dit is egter belangrik, want om nie te vergewe nie beteken jy dra 'n swaarte in jou hart wat jou menswees direk affekteer.
'n Wyse man het onlangs vir my 'n paar punte uitgewys om waarlik te vergewe: Onthou wat vergifnis behels (dit beteken nie jy keur wat gebeur het goed of maak asof dit nooit gebeur het nie - jy laat dit eenvoudig net vaar); dink na oor wat die voordele van vergifnis inhou - om woede en gegriefheid te laat vaar kan jou help om kalm te bly, om jou gesondheid te verbeter en om gelukkiger te wees; betoon empatie - ons almal is onvolmaak, net soos ons vergewe wil word, moet ons ook ander vergewe; wees redelik - wanneer ons oor iets nietigs ontsteld is, kan ons die Bybel se raad toepas - 'Hou aan om mekaar te verdra'; tree gou op - probeer om sou gou moontlik te vergewe en om nie toe te laat dat woede jou verteer nie. Om nie te vergewe nie is soos om gif te drink en te hoop die ander persoon gaan dood daarvan.
Vergifnis is nie 'n emosie nie, maar 'n besluit. Dit beteken ook nie dat jy hoef te vergewe en vergeet nie, want dan staan jy die kans om aan uitbuiting blootgestel te word. Om nie te vergewe nie beteken dat jy 'n onnodige las saam jou dra - om iemand te vergewe, verlig nie noodwendig die pyn nie - jou gemoed sal egter baie ligter wees.
Volgens hom gaan vergifnis en selfbejammering hand aan hand - mense wat seergemaak is vergewe nie omdat hulle hulself jammer kry en hul gevoelens liefkoos. Om dit effektief te kan doen, kan hulle nie vergewe nie. Onvergifnis en selfbejammering was nooit deel van Jesus se karaktereienskappe nie en wie is 'n groter voorbeeld van ware vergifnis as Jesus self?
Die vraag onstaan, wie bepaal hoeveel 'n mens werd is - wie het die reg om jou te oordeel, te veroordeel en waar pas vergifnis dan in? Wanneer jy 'n moeilike situasie in jou lewe moet hanteer, wil jy enersyds weghardloop, jou hart verhard en andersyds wil jy soos 'n leeuwyfie baklei. Soms kan mens nie baklei teen onverwagte, onbeplande aanvalle nie, maar dis wanneer jy besef dat dié aanvalle sy oorsprong in die spanningsveld van onsekerheid het. Die brandende pyle van veroordeling kan veroorsaak dat vergifnis ontwyk en jy jouself afvra of jy ooit goed genoeg sal wees vir die komplekse samelewing van vandag.
Hoe gee jy vergifnis as jy sukkel om sulke aanvalle te neutraliseer, jouself te beskerm en te verdedig sonder om te haat? Dit is wanneer, volgens die wyse man, jy aan jouself moet sê: Niemand is perfek nie en almal kan bespiegel wat hulle in 'n situasie sal doen voor jy jouself daar bevind. Dit help nie om kwaad te wees nie, kwaad laat nie vergifnis toe nie - dit is eerder 'n sterk gegronde gevoel van teleurstelling wat onnodige hartseer van enorme proporsies aanwakker.
Ten slotte het hy verduidelik: Jou waarde word nie bepaal deur ander se mening van jou nie, maar deur die alomteenwoordige liefde en vergifnis van die Hemelse Vader te aanvaar en te omvou. Aan die einde van die dag is Hy die een aan wie ons elkeen verantwoording moet doen.
Moeder Theresa het dit seker die beste omskryf:
People are often unreasonable, irrational and self-centered. Forgive them anyway.
If you are kind, people may accuse you of selfish, ulterior motives. Be kind anyway.
If you are successful, you will win some unfaithful friends and some genuine enemies. Succeed anyway.
If you are honest and sincere people may deceive you. Be honest and sincere anyway.
What you spend years creating, others could destroy overnight. Create anyway.
If you find serenity and happiness, some may be jealous. Be happy anyway.
The good you do today, will often be forgotten. Do good anyway.
Give the best you have and it will never be enough. Give your best anyway.
In the final analysis, it is between you and God. It was never between you and them anyway.