'Minder is meer' is deesdae die gonswoord. Die bekende Marie Kondo is reeds geruime tyd 'n voorstaander om die dinge wat mens om jou opgaar uit te sorteer en te verminder.
'n Nuwe beweging het vanjaar die lig gesien - die '100-Besittings' kultusbeweging steun die idee dat mens slegs 100 items moet besit, items wat werklik vir jou van waarde is en dit sluit klereasie in, inteendeel die kultus glo mens moet slegs 10 kledingstukke in jou kas hê. Hul motto is om niks in jou huis te hê wat nie nuttig of vir jou mooi is nie. Deesdae is oop spasies glo 'n statussimbool en om slegs een bank in jou sitkamer te hê is die in-ding. Minimalisme kweek volgens die kenners bewustheid wat weer sorg vir 'n gesonde siel.
In Denemarke volg heelwat landsburgers die hygge (uitgespreek hue-gah) konsep wat die teenoorgestelde is van minimalisme - inteendeel, dit handel meer daaroor om alledaagse dinge eenvoudig buitengewoon te maak. In wese beteken hygge bloot om 'n warm atmosfeer te skep en om die goeie dinge in die lewe saam met goeie mense te geniet. Miskien is dit hoekom Deense landsburgers as van dié gelukkigste in die wêreld beskou word!
Hoewel dit beteken om goed te lewe, beteken dit ook om eenvoudig te lewe, of om die eenvoudige dinge in die lewe meer te waardeer.
Ekself het die afgelope paar maande afgeskaal in my lewe, uit 'n groot huis na 'n klein vuurhoutjie-huisie; sakke en sakke besittings weggegee en lewe tans basies met net dit wat ek werklik nodig het - verbasend mis ek nie die groot spasie van my vorige woning nie en kom nogal klaar met minder besittings. Die minder as 10 items in my kas is egter 'n probleem. Ek dink dit is nou maar 'n ding met 'n vrou - ons hou van keuse!
Om minimalisties te lewe is dalk nie maklik nie en is 'n vrye keuse, maar tog wel 'n goeie een: Aan die einde van die dag handel dit meer oor om ervaringe as aardse dinge te versamel.