OPINIE - Ek sê dit vir myself soveel as vir enigeen wat dit miskien moet hoor: Daardie verrassingsoproepe of -boodskappe van jou vriende wat nie op die oomblik vir jou dringend voel nie? Antwoord hulle tog maar as jy kan...
Dit was 16:50 op ’n Donderdag. Ek het die oproep sien deurkom, maar ek was besig met werk, so ek het nie geantwoord nie.
So ’n bietjie meer as ’n uur later het die WhatsApp-gesprek só gegaan:
Ek: Listen, I am terrible with phone calls. You’re gonna have to voice note me or type it out. I am also busy working, so wouldn’t have answered anyway.
Sy: I realised that I was also being a bad friend and wanted to hear your voice so I know you’re still alive.
Ek: If you’re a bad friend, what does that make me?
Weer ek: But if you send a voice note, I promise I will send one back. I’m just not going to promise the when.
Sy: I won’t hold you to it. Life gets so weird, man. But I’m glad you good.
En 13 dae later was sy die een wat nie still alive was nie.
En ons het nooit die stemnotas vir mekaar gestuur nie. En “life [does indeed] get so weird, man.”
Prioriteite... Sou dit ’n krisis gewees het om 16:50 op dié Donderdag vir ’n oomblik op te hou werk en gou met ’n vriendin te gesels? Nee.
Hou ek van verrassingsoproepe? Ook nee, maar ek kan maar elke nou en dan vrede daarmee maak. Of selfs die een wees wat dit inisieer.
Prioriteite... Selfs toe ek daaraan dink dat ek miskien die nuus van haar dood met ’n ander vriendin (en kollega) sou moes deel, het ek onmiddellik gewonder hoe dit ons Woensdag-spertyd sou beïnvloed. Die koerantstories moet klaar; daar is nie nou tyd vir rou nie.
“Hoe is dáái vir prioriteite?” het ek daardie dag en in die dae daarna wrang gedink.
En dis nie dat my baas ’n slawedrywer is en nie begrip sal hê vir so ’n oomblik nie.
Ek dink dis maar net hoe my brein in hierdie stadium geprogrammeer is.
Sekere dinge kan maar eers wag, terwyl die ander, meer ‘dringende’ dinge (nie net werkverwant nie) aandag kry. Dis nié dat jy nie omgee nie, maar daardie vriend of vriendin kan mos maar net vir nog ’n rukkie wag - tot hulle nie meer kan nie.
Ek dink jy kom in ’n stadium van jou lewe waar jou vriende regoor die land of selfs wêreld gestrooi is. Nie noodwendig almal van hulle beste vriende nie, maar tog mense wie se teenwoordigheid vir jou ’n plesier is.
As julle bymekaar is, is dit lekker en die lewe is goed, selfs al praat julle nie elke dag of week of maand met mekaar nie.
Die dood van een van daardie mense wat die lewe goed gemaak het, laat jou maar net weer besin oor watter dinge maar kan wag en watter dinge jou later met ’n ek-wens-ek-het-gevoel sal laat.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’