MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) het onlangs twee vroue gearresteer ná hulle glo valse klagtes van verkragting by die polisie ingedien het.
Linda Leeuskieter (23) en Lee-Ann Abrahams (23) het op onderskeie geleenthede verkragtingsake aanhangig gemaak, maar is later self gearresteer op 'n aanklagte van meineed omdat hulle na bewering valse verklarings gemaak het.
AO Soretha van Zyl van die eenheid ondersoek beide sake.
Beide beskuldigdes het hierdie week in die hof verskyn, maar die uitkoms van hul verskyning was nie teen die ter perse gaan bekend nie.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, sê dit is belangrik om kennis te neem: "Ondersoekbeamptes sal nie huiwer om stappe teen 'n persoon te neem wat valse verklarings gedurende 'n ondersoek aflê nie.
Die publiek moet hulself daarvan weerhou om valse beweringe te maak, want hulle kan op aanklagte van meineed vervolg word.
"Geslagsgebaseerde geweldsake bly vir die polisie 'n topprioriteit, en alle pogings word aangewend om te verseker slagoffers word beskerm en oortreders ry aan die pen.
Sulke ondersoeke word sensitief hanteer en opgeleide ondersoekbeamptes van die GKS spandeer kosbare tyd om te verseker dat oortreders die volle mag van die gereg in die gesig staar wanneer hulle gearresteer word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’