Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Inwoners van Oudtshoorn en die ganse Suid-Afrika het in ongeloof en woede reageer op 'n video wat gister op sosiale media gesirkuleer het waarin plaaslike rugbyspanne mekaar die stryd op 'n oop stuk veld in Rosebank aangesê het.
Die groot besprekingspunt was die feit dat hierdie wedstryd tydens die Covid-19 inperking plaasgevind het. Drie inwoners van Oudtshoorn is tot dusver met dié virus besmet.
Die Oudtshoorn Courant het vanoggend Rosebank besoek en met twee spelers (albei 17 jaar oud) gesels wat by hierdie wedstryde betrokke was. Volgens hulle is die veld wat ongeveer 60m x 30m groot is, eers na die inperking met grawe en harke ontwikkel om as rugbyveld te dien.
"Om eerlik te wees was ons verveeld en dis waarom ons gister besluit het om mekaar te 'challenge'. Ek persoonlik is bewus van die virus, maar dis nie iets wat ons as 'n onmiddellike gevaar sien nie. Dit was lekker om die bal bietjie rond te pass en mekaar te tackle en so. Ek het dit baie gemis die afgelope tyd."
Op 'n vraag waarom hy steeds besluit het om te speel as hy bewus is van die inperkingreëls het hy gesê dat niemand in sy omgewing "siek" is nie en hy dus nie sommer kan aansteek nie.
"Grootmense was ook betrokke by die reëlings en hantering van dié wedstryde en dis wat meeste van die ouens veilig laat voel het."
Vier rugbyspanne, die Lolipops, Stoners, Zizo'z en 'n span van Toekomsrus het volgens dié twee spelers rondomtalie-wedstyde teen mekaar gespeel. Die beeldmateriaal van die video wat versprei is wys dat tussen 300 en 400 toeskouers die wedstryd bygewoon het. 'n Paar rugbyspelers verbonde aan plaaslike rugbyklubs wat onder die SWD-rugbyunie se vaandel speel, het volgens dié twee spelers ook aan gister se wedstryde deelgeneem.
Kyk 'n video hieronder:
Die wedstryde het glo om 13:00 begin, maar is om ongeveer 15:00 deur die polisie stopgesit waarna spelers en toeskouers op die vlug geslaan het.
By navraag het die kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Ntobeko Mangqwengqwe, die voorval ten sterkste veroordeel en gesê dat inwoners moet besef dat die inperkingsreëls in plek gesit is om inwoners se lewens te beskerm en nie om mense te weerhou van aktiwiteite waarvan hulle hou nie.
Hy het ook lede van die publiek aangemoedig om dadelik die polisie by 044 203 9014 of die Gemeenskaplike Operasionele Sentrum (GOS) by 044 203 78 01 te skakel indien hulle van bedrywighede weet wat teenstrydig met Covid-19 inperkingsreëls is.
Dit geld ook vir ondernemings wat onwettig sake doen, het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'