MOSSELBAAI NUUS - Nog ’n naweek van opwinding wag vir die rugbygemeenskap in die Suid-Kaap wanneer die Top-8 hervat word.
Vier A-spanne se plekke is reeds so goed soos verseker vir die uitspeelrondes van die 2026 SWD Top-8-kompetisie: die Barbarians met 44 punte, Groot-Brakrivier en Bridgton, elk met 43 punte, en die Evergreens met 40 punte.
Die ander vier spanne agter die voorlopers is Heidelberg (25), Silver Stars (24), Crusaders (22) en Progress (17). Die enigste span onder dié vier wat nog ’n geringe kans staan om die uitspele te haal is Heidelberg.
Indien Evergreens, die huidige SWD-kampioenspan, in hul laaste drie kragmetings vasval, moet Heidelberg op hul beurt onoorwonne bly en ’n groter punteverskil kan hul dalk net deurdra. Maklik gaan dit egter nie vir Heidelberg wees nie, want hulle meet juis teen die topdrie spanne in hul oorblywende wedstryde kragte.
Die verskillende klubs se ondersteuners kyk nou met groot afwagting en belangstelling uit watter twee spanne eerste en tweede sal eindig - dít sal sorg vir ’n tuishalfeindstryd.
Die vyfde ronde van die Top-8, wat hierdie Saterdag afskop, gaan beslis vir ’n paar verrassings sorg. Die kragmeting tussen die Silver Stars en Groot-Brak in Rosemoor gaan beslis ’n groot trekpleister vir beide spanne se ondersteuners wees.
Die Barbarians/Heidelberg-kragmeting op D’Almeidapark gaan ook ’n interessante tweestryd afgee. Heidelberg is sedert 2022 onoorwonne by D’Almeidapark. Die vraag is, gaan Barbarians hul wendroogte teen Heidelberg op D’Almeidapark na vier jaar breek?
Die Crusaders pak Evergreens in Parkdene, wat ook dalk vir ’n verrassing kan sorg.
In Oudtshoorn meet Bridgton teen Progress, wat die laaste posisie op die punteleer beklee, kragte. Bridgton het in hul laaste wedstryd teen Silver Stars vasgeval en sal beslis hierdie een op tuisbodem wil wen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’