MOSSELBAAI SPORTNUUS - Mosselbaai Hengelklub het op Saterdag, 9 Oktober 'n galjoenhengelkompetisie met groot pryse op die spel aangebied.
'n Totaal van 132 kaartjies is verkoop en hengelaars het die rotse en strande wes van die Knysna Heads tot oos van Gouriqwahek toegesak op soek na galjoene.
Volgens Jacques Pace van die Mosselbaai Hengelklub is slegs ses galjoene die dag ingeweeg.
"Die voorspelling was dat daar die dag 2,1m golwe sou wees wat die water bietjie sou roer vir die galjoene maar die suidwestewind het alles kom bederf. Die water was plat soos 'n spieël en te skoon," het Pace aan die Mossel Bay Advertiser gesê. Twee mosselkrakers, een witsteenbras en drie kolsterte is ingeweeg. Volgens Pace was die tradisionele rooi-aas en witmossel die aaskeuse van hengelaars op die dag.
Die kompetsie het 06:00 begin en die skale het 16:00 by die IPA-saal in Heiderand gesluit. Die eerste prys was hengeltoerusting en geskenkbewyse ter waarde van R8 000. Angelo van Staden het met hierdie prys weggestap vir die galjoen van 2,465kg wat hy gevang het.
Die tweede grootste galjoen van 2,1kg is deur Leroy October ingeweeg en het hy weggestap met 'n prys ter waarde van R5 000. Die derde prys van R2 500 is deur Estian Hassel jnr gewen met 'n galjoen van 1,495kg.
Tracey van Biljon het in die vroue afdeling R500, asook 'n R500-koopbewys gewen met 'n galjoen van 1,140kg. 'n Wit Steenbras van 5,675kg, wat deur Johan van Rensburg gevang is, is ingeweeg as die swaarste eetbare vis en hy het 'n Shimano Tec 70MH en 'n Shimano TLD20 ter waarde van R3 420 gewen.
Die Mosselbaai Hengelklub het al die borge in besonder bedank vir hul bydraes tydens die kompetisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'