MOSSELBAAI NUUS - Terwyl die ou Sportskool in Marshstraat op Mosselbaai steeds leeg staan, het die polisie hulle hande vol met misdadigers wat voordeel uit die leë gebou en gronde trek.
Die Mosselbaai-polisiestasie se woordvoerder, ao Pieter Koekemoer sê hulle visenteer bykans op 'n daaglikse basis persone wat by die terrein met onder meer dwelms handeldryf. Die gebou, wat vroeër as 'n koshuis gebruik is, staan reeds etlike jare leeg en word deur gesagsfigure as 'n "nes" beskryf.
Die perseel behoort tans aan die departement van openbare werke en 'n sekuriteitsmaatskappy is deur die departement aangestel om die terrein te beveilig. Hoewel die gras van tyd-tot-tyd gesny word, was daar etlike klagtes oor die verwaarlosing van die terrein in Mosselbaai se sakekern.
Volgens ingeligte bronne is die oogmerk om al die provinsiale staatsdepartemente in die gebou te akkommodeer. Die opgradering van die gebou sal egter eers teen Januarie 2019 begin. Hoewel die woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke,
Byron la Hoe in 2017 aan die Mossel Bay Advertiser gesê het dat konstruksie aan die gebou reeds in Januarie 2018 sou begin, is die proses duidelik vertraag aangesien daar nog geen veranderinge aan die gebou gebring is nie. Volgens La Hoe behoort die projek teen Junie 2019 voltooi te wees.
Die opgradering van die gebou beloop by die R16 miljoen. Die Mossel Bay Advertiser het navrae oor die vordering van die opgraderings aan die departement van vervoer en openbare werke gestuur, maar teen druktyd nog geen terugvoering ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'