MOSSELBAAI SPORTNUUS - Is daar enigiets prettiger as Oujaarsdag wat op 'n Saterdag val? Selfs daardie arme siele wat tot in die jaar se doodsnikke moet werk, sal op 31 Desember hul vrye tyd na hartelus kan spandeer en op 1 Januarie rondlê en heel Sondag lank herstel.
GrootbrakGrabadoo is 'n Tuinroete-instelling en word vanjaar vir die 19de keer op Saterdag, 31 Desember aangebied.
Die geleentheid bied bergfietsroetes van vier verskillende afstande aan, asook 'n pretstap deur die dorp. Die ervaring word beskou as die toppunt van gesinspret deur plaaslike inwoners en besoekers aan Mosselbaai en laat fietsryers en stappers/drawwers nie net met welverdiende medaljes en aandenkings nie, maar ook veral herinneringe wat hulle vir 'n leeftyd bybly.
Roete-koördineerder Alewijn Dippenaar sê deelnemers kan 'n topklas gesinspretdag verwag met asemrowende paaie deur van die Tuinroete se skouspelagtigste blommeryk. "Fietsryers kan kies tussen roetes van 15km, 36km, 58km en 72km, terwyl pretlopers 'n afstand van 4.8km voltooi." Elke deelnemer sal 'n Iconic Mossel Bay buff, medalje en Powerade-energiedrankie na afloop van die deelname ontvang.
Hardlopers, stappers, gesinne en hul troeteldiere word genooi om aan die pretstap deel te neem wat met die skoonheid van die kusdorpie en sy waterweë spog. Vir diegene wat fietsbande bo tekkie-voete verkies, is kundig-beplande fietsryroetes beproef en getoets vir maksimum genot deur trappers van alle vaardigheidsvlakke.
In die aanloop tot die 2022-geleentheid sal die dorp weer tot aksie oorgaan en die dae tel tot wedrendag. GrootbrakGrabadoo beamptes en vrywilligers word van plaaslike gemeenskapsorganisasies en sportklubs gewerf, terwyl baie inwoners en besighede op hul eie unieke manier bydra. Die doel is om hierdie spesiale gemeenskap te betrek en te bemagtig en om Groot Brak se ekonomie 'n hupstoot te gee. Die jaarlikse GrootbrakGrabadoo dien ook as hooffondsinsameling vir plaaslike liefdadigheidsorganisasies.
Inskrywings
Die aksie skop op Saterdag, 31 Desember om 06:00 by die Groot Brak-sportgronde in Langstraat, oorkant Peperboom Restaurant af. Aanlyn-inskrywings sluit teen 30 Desember, maar voorafinskrywings kan op 30 Desember vanaf 08:00 tot 17:00 by die sportgronde gedoen word en laatinskrywings op die 31ste vanaf 06:00 tot 06:30. Fietsryers onthou: geen helm, geen rit nie.
Vanjaar se Grabadoo word mildelik deur Property Connect ondersteun, met 'n handjievol besighede van Groot Brak en elders op die Tuinroete wat hul steun gaan verleen aan hierdie geleentheid wat as 'onmisbaar' op feesseisoen-kalenders gemerk word.
Inskrywings kan ook by Property Connect-kantore in Wildernis, George, Groot-Brakrivier en Mosselbaai gedoen word, asook by Coimbra George.
Inskrywingsvorms kan by De Dekke Spar in Groot Brak verkry word.
Voornemende deelnemers kan ook hul deelname aan GrootbrakGrabadoo '22 waarborg by www.onlines.co.za. Kontak vir Mimi (084 583 3144 of mimi@gojipr.net), of Alewijn (082 457 5675 of dyndev@mweb.co.za) vir verdere besonderhede.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'