Video
MOSSELBAAI SPORTNUUS EN VIDEO - As 'n jongmens deur sy of haar ouers blootgestel word aan 'n stokperdjie, gee dit so 'n kind die geleentheid om verantwoordelik en verskeie ander lewensvaardighede aan te leer.
So is 'n plaaslike seun, Logan Boshoff (13), sy pa Richard en broer Franco ewig dankbaar dat hulle hom op 'n vroeë ouderdom aan duiwewedvlugte blootgestel het en hy 'n liefde vir duiwe en 'n passie vir die duiwesport ontwikkel.
Logan, 'n leerder by Laerskool Park, en sy pa is lede van die Mosselbaai Posduifklub. Hy vlieg vanjaar vir die eerste keer in die junior-afdeling van die klub en is baie trots daarop dat twee van duiwe die afgelope naweek tydens die wedvlug vanaf Britstown, beide die jaaroud- en ope-afdelings in die klub gewen het.
Hy spog verder ook met die tweede plek in die jaaroud-afdeling asook 'n verdere tweede en derde plek in die ope-afdeling. Logan se wenduif in die jaaroud-afdeling het die afstand vanaf Britstown, soos die kraai vlieg 'n afstand van ongeveer 420km tot by hul woning in Da Nova, in net onder die vyf ure afgelê. Met verskeie verantwoordelikhede gee die wedvlugduiwe van jongs af kinders die geleentheid om hul lewens te vorm, liefde vir diere te ontwikkel en verskeie ander lewensaspekte aan te leer. "Die stokperdjie hou my kinders weg van tegnologie en wat vir my een van die belangrikste faktore is, is dat daar 'n band gebou word tussen myself en my seuns," sê Richard.
"Met Covid-19 se 14 dae wat ons by die huis bly gee dit my nou die tyd om baie aandag aan my duiwe te gee en ek is baie lief vir my duiwe," vertel Logan.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'