MOSSELBAAI NUUS - Die laat winterweer in Augustus het 'n klomp spelers onkant betrap, maar selfs die koue, reënerige weer het nie die entoesiasme van die meeste deurwinterde spelers gedemp nie. Een van die klub se nuwe borge, 100 Reserve, het Woensdag, 8 Augustus die individuele syferpluskompetisie geborg.
Paul Odendaal (voorgee 3) se telling van +4 het gesorg dat hy die A-afdeling wen. In die B-afdeling was die stryd fel en Stefan van Vuuren (+5) het eers na die uittel die botoon gevoer. Die 87-jarige Neels Mostert het weer eens sy teenstanders verras deur die C-afdeling op 'n skitterende telling van +7 te wen.
Die volgende spelers se goeie tellings het ook verseker dat hulle nie met leë hande huis toe is nie: G Engelbrecht (+5), A du Plessis (+5), T Schultz (+4) en S Rautenbach (+3). Joan Zietsman het met 'n telling van +2 die beste van die vroue gevaar.
Vrouedag
Donderdag, 9 Augustus, Vrouedag, het 'n groot aantal spelers opgedaag om deel te neem aan die individuele stablefordkompetisie. Die A-afdeling is deur Anton Izaakse (jnr) op 42 punte gewen. Fires Janse van Vuuren (37 punte) en Johan Botha (33 punte) het onderskeidelik die B- en C-afdelings gewen. D Gerber (42 punte) en W Pretorius (39 punte) het ook prystafel toe gestap. Hettie Bruwer (44 punte) het uitmuntende gholf gespeel en was loshande die voorste vrouespeler. Catherine Bell se 42 punte het haar ook van 'n prys verseker.
Saterdag
Die afgelope langnaweek het gesorg dat talle besoekers weer van ons mooi baan gebruik gemaak het. Saterdag, 11 Augustus het 176 spelers aan die individuele stablefordkompetisie deelgeneem. Gesoute provinsiale speler, Solly Rautenbach (voorgee 5), het briljant vertoon en op 43 punte het hy op 'n drafstap in die A-afdeling koning gekraai.
Die wenners van Heineken se borgdag: J Borchardt, S Rautenbach en B Mintoor.
Die dag het egter aan Gerhard Combrinck behoort wat 'n ongelooflike 48 punte in die B-afdeling aangeteken het. Elias Engels was ook behoorlik op sy stukke en op 42 punte het hy die louere in die C-afdeling ingeoes.
Verdienstelike tellings is ook deur Bennie Mintoor en Shaun Botha, albei op 42 punte, aangeteken. Presteerders onder die dames was EC Botha (40 punte) en H de Villiers (38 punte).
Na die lekker reëntjie is die baan vinnig besig om lowergroen te word en 'n rondte gholf sal alle opgekropte frustasies soos mis voor die son laat verdwyn.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'