MOSSELBAAI SPORTNUUS - Fanie Mollentze het die afgelope naweek behoorlik skoonskip gemaak in die Mosselbaai-posduifklub deur 'n dubbele wen in die wedvlugte vanaf Bloemhof (790km) te behaal.
Die duiwe is Saterdagoggend, 27 Augustus om 07:00 in mooi weersomstandighede op Bloemhof losgelaat en net bietjie meer as 10 ure later arriveer twee van Fanie se duiwe in minder as minuut uitmekaar om vir hom onderskeidelik die ope 1 en ope 2 wedvlugte in die klub in te palm.
Sewentien van Fanie se 30 duiwe wat aan die twee wedvlugte deelgeneem het, slaap die aand in hul hok, terwyl die ander die volgende dag terugkeer.
Danie Barnard klok die tweede duif in die ope 1 terwyl Gillroy, Jan Marais en Essie Esterhuizen die derde tot vyfde plekke inneem. In die ope 2 klok Jan Marais tweede met Fanie, Essie en Danie in die derde tot vyfde plekke.
Juniors
Logan Boshoff en Tashinga Kadye spog met die wenposisies in die ope 1 en ope 2 wedvlugte van die junior afdeling. Die tweede tot vyfde plekke in die ope 1 word deur onderskeidelik JW Schutte, Tashinga en Zante Strydom (4de en 5de) ingeneem.
In die ope 2 neem JW die tweede en vyfde plekke in met Tashinga die derde en vierde plekke.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'