Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Waar daar 'n wil is, is daar 'n weg. Dít het verskeie toegewyde atlete in Mosselbaai en omgewing hierdie naweek deur en deur bewys toe hulle 'n "tuisweergawe" van verskeie wedlope in die afgestelde Twee Oseane-marathon afgelê het.
Driemanskap
Drie vriendinne van Mosselbaai, almal lede van die Hartenbos Drawwers het verlede Saterdag, 11 April 58km tuis afgelê. Dit is die afstand wat vanjaar se Twee Oseane-ultramarathon sou behels.
Die marathon, wat ook ander wedlope insluit, sou op 11 April in Kaapstad plaasgevind het, maar is vanweë die Covid-19-pandemie, afgestel.
Ané Scholtz, Christelle Oosthuizen en Delucia Swanepoel het dié tuisbly-uitdaging aangepak en hulleself beloon met tuisgemaakte lockdown-medalje. Hulle sou al drie aan die Twee Oseane-marathon deelgeneem het. Ané en Delucia het in hulle tuine gedraf en Christelle het van haar trapmeul gebruik gemaak.
Fotogalery: Tuisweergawe van Twee Oseane-marathon
"Vat so coronavirus! This is me staying positive," het Ané op haar facebookblad ná die uitdaging geskryf. Ané het die wedloop in 6h12m afgelê. Sy sê dit was nie maklik om elke keer by dieselfde punt verby te hardloop nie.
"Hier op 44km het ek gevoel ek wil nie meer nie, maar ons het mekaar so op die selfoon bemoedig." Ané sê die ervaring het haar geleer om nooit weer die voorreg om te gaan draf as vanselfsprekend te aanvaar nie. Aan haar praat kan mens aflei dat ná die grendeltydperk, dit nie sommer weer gaan gebeur nie.
Ané sê dat die ongelyke terrein haar gevang het. "Maak geen fout nie, dit was meer soos 'n trail run. Nie met enige van my Twee Oseane of Comradese was my lyf al só seer gewees nie."
Ander lede van die Hartenbos Drawwers het ook tuis ander afstande afgelê onder meer die Twee Oseane-halfmarathon van 21,1km.
641 keer om die huis
Werner Botha, tandarts van Hartenbos en 'n lid van Cape Multisport Eden, het ook die ultramarathon tuis aangepak. Debbie Campbell, die klubsekretaresse verduidelik dat dit 641 rondtes om sy huis behels het. Volgens Campbell het verskeie van die klub se ander lede ook Saterdag hulle kant gebring in 'n goeie sportmangees.
"Een van ons lede, Magda Opperman het 'n halfmarathon in haar tuin gehardloop. Sy het maar net 130m gehad om mee te werk. Jy kan jou indink hoe baie keer jy dieselfde gedeelte hardloop om die afstand op te maak."
Wat die atlete se terugvoering betref sê Campbell, was hulle almal dit eens dat dit 'n geweldige uitdaging was. "Hulle almal het gesê dat hulle nie gedink het dit so moeilik gaan wees nie. Dit was 'n mental ding om te oorkom."
Campbell sê dat in die gees van Paasfees, het van die atlete hulleself met medaljes gemaak van Paaseiers beloon.
- Die Mossel Bay Advertiser is bewus van ander atlete wat ook die afgelope naweek aan "wedlope" tuis deelgeneem het.
Ananda Joubert van Danabaai het ook aan die uitdaging deelgeneem.
Ané Scholtz sê haar lyf was nog nie só seer nie.
Vorige artikel: Driemanskap draf steeds ultra-marathon
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'