Gallery
MOSSELBAAI NUUS EN GALERY - Die leemte wat 'n troeteldier se dood in hul huis gelaat het, het 'n Mosselbaai-paartjie se harte vir die Tuinroete DBV se Mosselbaai-tak laat oopgaan.
Marieta en Charles Joubert het onlangs 'n rolbalfondsinsameling ten bate van die DBV aangebied en daarmee 'n volle R23 800 ingesamel.
"Ons het 'n Yorkie gehad, Jessie; sy was ons huis, ons liefde, en ons familie. Sy is op 17 September verlede jaar oorlede - sy was amper 15 jaar oud."
Maar troeteldier ofte not, daardie sagte plekkie vir diere bly maar daar. Marieta sê toe dit vanjaar so verskriklik gereën het, en sy sien op sosiale media dat die DBV om hulp vra, kon sy dit nie ignoreer nie.
"Hulle kan nie praat nie; trouens, hulle gee net onvoorwaardelike liefde aan ons as mense. So ek het besluit ons sal hul stem wees en het komberse, kos en jassies uit alle oorde ingesamel, en ons Wolslim Henne het kombersies gehekel en bedjies gemaak."
Toe besluit sy om 'n veldtog, Winterhoop, te begin. "Dit was 'n hartsaak, en ek glo God het my en my man gebruik om 'n verskil te maak." En dis hieruit wat die rolbaldag sy ontstaan gehad het.
Marieta sê dit was harde werk, maar die uiteinde was so positief. "Vandag kan ek sê met almal se oop harte was dit 'n reusesukses. Die gees was wonderlik, en almal het dit so geniet. Dit was 'n pretdag vir 'n goeie doel."
Sy sê die span van die Hartenbos-rolbalklub was ongelooflik hulpvaardig en het hulle met ope arms ontvang.
Rolbal is gespeel, steak is gebraai, en daar was natuurlik pryse te wen. Sharika van Rooyen, Bianca Scholtemeyer, Charlene Lemley en Hein Botha se span het die rolbalafdeling gewen, en Loriaan Venter, Madeleine Lombard en Nanaette Lourens met hul oulike brille, oortjies en pienk tutu-rokkies het met die prys vir die bes geklede span weggestap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’