Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Buiten sy belangstelling in sy gunsteling sportsoorte naamlik skaak en rugby, is een van Mosselbaai se jong seuns ook 'n ywerige wedvlugduiweboer.
Zante Strydom (8), 'n graad 2-leerder van Laerskool Hartenbos en inwoner van Danabaai, neem vanjaar saam met sy oupa, Casper le Grange, 'n ervare wedvlugduiweboer, aan dié sportsoort deel.
Onder die vaandel van Le Grange hokke, neem Zante onder sy eie naam in die junior-afdeling deel en is hy 'n ywerige en besige seun by die Mosselbaai-posduifklub waar hy geaffilieer is.
Hy mag elke naweek met 10 duiwe kompeteer, vyf in die jaaroud-afdeling en vyf in die ope-afdeling.
Behalwe dat Zante 57 duiwe het waarmee hy vlieg, is hy ook 'n baie flukse helper wat sy oupa graag help om die duiwe water en kos te gee.
VIDEO - Agt jaar oud en reeds 'n veelsydige jong seun (Video: Jannie du Plessis).
By die klub geniet hy dit wanneer die duiwe op Donderdae gemandjie* word vir die komende naweek se wedvlugte. Die wedvlugte vind gewoonlik op Saterdae plaas. Hy hanteer sy eie duiwe en mandjie hulle self. Hy help ook graag om mandjies rond te dra.
Weens die brand by Zante se oupa Casper en ouma Rika se huis in Danabaai op 30 Junie, kon hulle en Zante vir drie weke nie duiwe vlieg nie. Die brand en rook het die duiwe erg ontwrig.
"Ons vlieg nou weer. Dit is baie moeilik om te kompeteer en in te haal met punte as jy 'n naweek of twee nie kon vlieg nie," vertel ouma Rika.
Die afgelope naweek het Zante se duiwe in die jaaroud-wedvlug 6de, 8ste en 13de plekke behaal. In die ope-wedvlug het sy duiwe 2de, 5de, 8ste en 15de plekke behaal. Voorwaar 'n seun wat nog baie hoogtes met sy duiwe gaan bereik.
"Zante het 'n natuurlike talent om met duiwe te werk. Vandat ek hom die eerste keer gewys het, weet hy hoe om 'n duif reg vas te hou en te hanteer, hy doen dit so gemaklik sonder sukkel," vertel 'n trotse oupa Casper.
* Duiweboere se beskrywings vir die proses wanneer duiwe vir 'n wedvlug ingeskryf (die papierwerk) word en daarna in spesiale duiwemandjies geplaas word. Dié mandjies word, nadat dit deeglik geseël is sodat niemand tot dit toegang het nie, dan op 'n vragmotor geplaas wat al die verskillende klubs in die Eden-distrik se duiwe tot op die loslaatpunt neem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'