Gallery
TUINROETE NUUS - 'n Unieke toergroep bestaande uit 43 manne het onlangs die 40ste jaar van hul Suid-Kaap-gholftoer gevier.
Oor hierdie 40 jaar het 142 lede al meer as 80 000 rondes gholf op Mosselbaai, Plettenbergbaai, Knysna en George gespeel.
Vanjaar se toer het op 30 Oktober in Mosselbaai begin. Die dag daarna is hulle Plettenbergbaai toe, daarna Knysna en op die vierde dag George.
"Die doel van die toer was eerstens om die pragtige bane van die Suid-Kaap te geniet, maar terselfdertyd wou ons 'n geleentheid skep waar vriende en familie van regoor die land vriendskappe kon uitbou terwyl daar ernstig om die 10 trofeë en medaljes meegeding word," vertel Wynand Deyzel.
Vanjaar was al sy 38ste jaar op dié toer, die meeste onder al die manne.
Wynand Deyzel
"Ons het deurlopend probeer om die toerlede se seuns te betrek en was geseënd om op een jaar 13 pa-seun-kombinasies te gehad het."
Vanjaar se jongste speler uit die groep, Philip Crafford, en sy pa, Jan.
Hyself het in 1987 saam met sy pa, Willie, van Stilbaai (destyds van Williston) aangesluit. Dit was een jaar ná die toer in 1986 deur Deon Ollewagen, Johan Slabbert en twee kollegas wat almal by die destydse Bakke in die Paarl werksaam was, begin is.
Wynand het met behulp van komiteelede verantwoordelik vir kos, reëls, lotings en 'n tugmeester, die reëlings in 1989 oorgeneem.
Dis ook nie sommer net van speel nie, hoor. Daar is oor die jare behoorlik boekgehou. Die meeste spelers wat hulle byvoorbeeld al in 'n jaar gehad het was 52 gedurende die 25ste toer in 2010.
"Statistiek vorm 'n wesenlike deel van ons geskiedenis, en daar word in detail rekord gehou van uitslae, rekords, wenners asook die SAK. Die SAK word na elke ronde aan die speler wat die swakste presteer het, toegeken," sê Wynand.
In 2024 het hy en sy span die leisels aan Richard Barry en sy bekwame komitee oorhandig.
Uit vanjaar se spelers is die jongste Philip Crafford (25) en die oudste Hannes van Wyk (78).
Die oudste en jongste spelers uit die groep, Hannes van Wyk (78) en Philip Crafford (25).
Volgens Barry se statistieke is die gemiddelde voorgee onder die groep 14,8 en gemiddelde ouderdom 56,8. Die lede het elk 'n gemiddelde 11,6 toere agter die blad.
Die toerlede het klubs van so ver as die Drakensberge, Gauteng en die Noord-Kaap verteenwoordig.
Gholfklubs het die volgende ingesluit: Williston (8 spelers), Devonvale (5), Kuilsrivier (5), Ladismith (5), Hermanus (3), Mosselbaai (3), Stellenbosch (3), Bellville (2), Paarl (2), Cathedral Peak (1), Moorreesburg (1), Randpark (1), Robertson (1), Stilbaai (1), Strand (1) en Worcester (1).
Stilbaai is deur Fredi Linder verteenwoordig en Mosselbaai deur Pierre Meyer, Stefan van Vuuren en Raymond de Villiers.
Mosselbaai-spelers Pierre Meyer, Stefan van Vuuren en Raymond de Villiers.
Meyer het 'n indrukwekkende 147 punte aangeteken en is daarmee ook as die algehele wenner vir die jaar gekroon.
Kenneth Klopper van Kuilsrivier was tweede met 139 punte en nog 'n Mosselbaaier, Van Vuuren, het die derde plek ingeneem met 137 punte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’