MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Christo Langenhoven (voorgee 14) het hom uitstekend van sy taak gekwyt en op 39 punte was hy die trotse wenner van die eerste prys tydens Woensdag, 11 Augustus se GWK Eiendomme-borgdag wat onder die entoesiastiese leiding van Ursula Gouws by Mosselbaai-gholfklub aangebied is.
Die 168 spelers wat aan dié individuele stablefordkompetisie deelgeneem het, het verseker dat daar beslis vorentoe groot ondersteuning aan 'n soortgelyke geborgde dag verleen sal word.
Drie spelers het mekaar harde bene laat kou om te sien wie as naaswenner gekroon kon word.
Sakkie Morrison, Hilton Duminy en Oosie Oosthuizen het almal op 38 punte geëindig, maar na die uittel was Sakkie Morrison die gewilde naaswenner.
Hilton en Oosie het onderskeidelik derde en vierde geëindig.
GWK Eiendomme het ook gesorg dat die volgende spelers nie met leë hande huis toe gaan nie: JJ Joubert en Albie Ellman, albei op 37 punte en Chris van den Berg en Hester de Jager op 36 punte.
Suid-Kaap ope
Die Suid-Kaap ope wat die afgelope naweek op die Mosselbaai-gholfbaan baan afgehandel is, het beteken dat geen klubkompetisie kon plaasvind nie.
Baie dankie aan die lede wat so goedgunstiglik die baan aan die besoekers beskikbaar gestel het. Die besoekers van heinde en verre het groot lof vir die mooi, goedversorgde baan gehad. Groot dank aan Gavin Coleman, baan-superintendent, en sy span, wat 'n reusetaak verrig het om die baan in so 'n puik toestand te kon aanbied.
Die welkome reën voor die toernooi is met groot dankbaarheid ontvang.
Winter-uitkloprondes
Einde Augustus nader vinnig en daar is nog 'n hele klomp spelers wat hulle winter-uitkloprondes moet voltooi. Intussen het Dawid Upton en Bernard Liebenberg vriend en vyand verras toe hulle die hoogaangeskrewe André van Wyk en Hendrik Kriek uitgeskakel het. 'n Gedugte kombinasie blyk te wees die van Michael Kriel en die junior, Kass Muller, wat ook aanbeweeg het deur vir Kelly Muller en Ashwin Cameron die loef af te steek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'