OPINIE - Die meeste dinge in die lewe het mos maar 'n soet en 'n suur deel.
Jou werk, jou gesinslewe, selfs om 'n sport te beoefen het 'n deel wat báie aangenaam is, en dan 'n deel wat minder aangenaam is. Aftrede is nie anders nie.
Ek glo dat dit vir elke afgetredene dalk iets anders sal wees, en dit mag selfs van tyd tot tyd verskil.
As jy my sou vra wat vir my die slegste is, is dit sekerlik dat mense jou behandel asof jy nou skielik niks weet nie - totaal onbevoeg is.
Jy bied aan om binne jou ervaringsveld en lewenservaring mense en organisasies te help, en dan kry jy so 'n kyk van "jammer Oom, maar wat weet jy nou eintlik?"
Dit gebeur selfs in die omgewings waarin jy gewerk het. Hulle vergeet dikwels dat die insette wat jy tot nou onlangs toe nog in die werksplek gelewer het as 'n nalatenskap beskou moet word.
Ek is bevoorreg om as afgetrede polisiekapelaan aan die Outeniqua-tak van die Bond van Oudpolisiebeamptes hier in Hartenbos te behoort.
Onlangs (7 September) lees ek op die WhatsApp-groep van die tak die volgende onder die titel "Die ironie van oudword..." en ek haal net 'n toepaslike gedeelte uit die stuk aan: "Jy spandeer jare om 'n lewe te bou - werk hard, maak planne, help ander, dra swaar...
Jy's die een met antwoorde, die een met oplossings. En dan... kom die ouderdom. Skielik moet jy intrek. Skielik is jou raad nie meer altyd so welkom nie en jou knieë en trots werk nie meer soos voorheen nie. (Skrywer onbekend.)
Tyd
Afgetrede mense het tyd op hulle hande, en met daardie tyd is dit lekker om andere dop te hou. Nie om te skinder nie (alhoewel party dit seker ook doen), maar om te kyk waar jy iemand kan help, 'n hand by te sit.
Ek het al 'n paar maal my hulp op die gebiede wat ek weet ek 'n verskil kan maak aangebied, en in sommige gevalle was die baie professionele antwoord: "Ons sal jou laat weet as ons jou nodig het."
Nodeloos om te sê kontak hulle jou dan nie, maar hulle geniet dit skynbaar om eerder self te sukkel en deur hul eie toets-en-probeer te leer.
Dan dink ek so in stilte, tong in die kies, julle moet die sukkel geniet. Gelukkig is daar ook baie mense wat die waarde ontdek het om van die wysheid en kennis van andere gebruik te maak, om sodoende gouer hul eie suksesse te bereik.
Verseker het ek my les geleer in die sin dat ek baie selektief my dienste aanbied en verseker dit ook nie goedkoop maak nie, want Mattheus 7:6b (Afr. 1983): "...en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap." Die Nuwe Lewende Vertaling stel die gevolg so: "Hulle sal dit nie waardeer nie, maar dit vertrap soos varke onder hulle pote."
Met die gevolg dat ek nie sommer meer net goedsmoeds my hulp of dienste aanbied nie, maar ek skep wel die geleentheid dat mense daarna kan vra, want dan word dit gewoonlik waardeer.
Ek laat ook nie toe dat die optrede van "waarmee kan jy ons nou eintlik help" my waarde bepaal nie. My waarde is gesetel in wie ek in Christus is, met 'n sakvol lewenservaring wat baie waardevol is.
Humor strek ver
Op 'n minder ernstige noot is een van die ander slegte dinge van aftrede dat ek geen verlof meer het nie - nie vakansieverlof, siekverlof of studieverlof nie, niks nie.
Na aftrede glo ek bly dit steeds belangrik om verlof te vat volgens jou skedule, beplanning en voorkeure. Ek wou dit nie glo nie tot verlede jaar toe die aftree-ding so aan my begin byt-byt het. My vrou het my op 'drie maande verpligte verlof' gesit 'met die opsie om dit te verleng'.
Dit was in hierdie verpligte verloftydperk waar ek die aftree-ding met myself, navorsing en gebed kon deurwerk. Ek moes my kop wegkry van my ou werkroetines en misplaaste skuldgevoelens en léér om te ontspan en 'n nuwe ritme te vind.
Dit is met al hierdie persoonlike ervaring, navorsing uit verskeie studiemateriaal, gesprekke met professionele kundiges op die gebied en gesprekke met mense wat in dieselfde seisoen as ek in hulle lewe is dat ek vandag met vrymoedigheid Passievolle Aftrede met Vergenoegdheid-werkswinkels kan aanbied vir mense van alle ouderdomme.
Moenie toelaat dat mense se persepsie oor afgetredenes se vermoëns en kennis jou selfwaarde bepaal nie. Jy weet mos wie jy is en wat jy bereik het en wat jou lewenservaring is. Hou aan om 'n verskil in jou omgewing te maak.
*Christo Maree het op 60 as kapelaan van die Suid-Afrikaanse Polisiediens afgetree en in Desember 2023 sy emeritaat as leraar uit die Bybelgenootskap aanvaar. Daarna het hy hom in Hartenbos kom vestig, waar hy steeds aktief sy bediening uitleef.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’