MURRAYSBURG NUUS - Jan-Hendrik Swiegers (36) dra vele hoede, van hegte gesinsman, eiendomsontwikkelaar en entrepreneur, tot 'n kampvegter vir die klein dorpie van Murraysburg en nou dié van musikant.
Jan-Hendrik het ‘n passie vir die Karoo.
Jy hoor dit in sy manier van praat oor dié streek en sy mense en jy sien dit in die dinge waarmee hy homself besig hou.
Tans 'n inwoner van die Paarl, is hy oorspronklik afkomstig van Murraysburg waar hy sy kinderjare spandeer het - die seun van Estelle en wyle Gert Swiegers.
Jan-Hendrik het onlangs die jaar 'n lied, wat hy self geskryf en gekomponeer het, laat opneem en 'n musiekvideo daaroor in die Murraysburg-omgewing laat verfilm.
Sy liefde vir Murraysburg - sy grootword dorp - is inherent deel van wie hy is. Die lied 'Murraysburg' dra getuienis hiervan.
Alhoewel die lied spesifiek oor die dorpie Murraysburg gaan, meen Jan-Hendrik egter dat die lied vir elke Suid-Afrikaner, wat al ooit trots gevoel het oor sy herkoms, geskryf is.
"Dit is vir elke Suid-Afrikaner bedoel wat al ooit empatie gehad het met boere en die swaar tye waar deur hul dikwels moet gaan asook vir elke Suid-Afrikaner vir wie dit belangrik is om deel te wees van 'n hegte gemeenskap", sê Jan-Hendrik.
Die liedjie, wat al amper 72 000 keer op Youtube en Facebook gekyk is, is geloof deur gesoute Afrikaanse sangers, soos Jannie du Toit, wat dit "uiters smaakvol en mooi" beskryf het.
Kyk 'n video en lees meer op ons susterkoerant, Graaff-Reinet Advertiser.
'Ons bring jou die nuutste Karoo, Hessequa, Tuinroete nuus'