HARTENBOS NUUS - Sedert Werner van Huyssteen (54) se aankoms as skoolhoof by Laerskool Hartenbos in 2018, het die skool van sowat 850 leerders na sowat 1 300 gegroei.
Mossel Bay Advertiser het in die hoof se kantoor gaan kuier om meer oor die man agter die titel uit te vind.
Groei, dinámiese groei, is een woord wat hy gebruik om sy afgelope klompie jare hier op te som.
Saam met die groeiende omgewing van die groter Mosselbaai het Laerskool Hartenbos ook gegroei: in leerders, in onderwysers, in infrastruktuur, in kultuur, en meer, vertel Van Huyssteen.
Met sy aankoms op Hartenbos was die hoof se rol nie vir hom iets nuut nie. Sy eerste pos as een was by Laerskool Montagu en daarna by Laerskool Bredasdorp.
“Ek was reeds 16 jaar hoof toe ek hier begin het. Dit maak dit vir ’n mens baie makliker, want jy het nou al rondom jou personeel gesien wat werk en waarvan moet jy wegbly. En ’n ou weet jy moet jou personeel heel eerste aan jou kant kry, want hulle moet jou vertrou.
“Dit was die heel eerste sprong, om die personeel te leer ken sodat hulle jou kan leer ken. My aanslag met personeel is dat hulle gemaklik moet voel. Dit moet vir hulle lekker wees om werk toe te kom. En ek dink ons kry dit tot ’n groot mate reg. Ons stem nie altyd met mekaar saam nie, maar ja, ons kry dit in ’n groot mate reg.”
Onderwys en ’n hoof se pligte kom natuurlik nie sonder hulle uitdagings nie.
Van Huyssteen sê een van sy grootste uitdagings, of eerder iets om na te streef, is om die balans tussen groei en kultuur te vind, veral in so ’n vinnig groeiende omgewing soos Mosselbaai.
Hierdie strewe na balans kom ook nie net uit sy kantoor nie. Van Huyssteen is nie ’n vreemdeling in die klaskamer óf op die sportveld nie; hy is lief vir die interaksie met leerders. Hy gee nog persoonlike en sosiale welstand (’n onderafdeling van lewensvaardighede). Dan is hy ook by die gr. 1-rugby en -krieket betrokke. Hy sê op hierdie manier leer hy die leerders van kleins af ken.
Van Huyssteen het sy onderwysloopbaan in 1995 by Laerskool Welgemoed begin en is daarna in 1998 na Laerskool Eversdal waar hy die adjunkhoof was. Dis in sy tyd hier dat hy ook sy onderwysdiploma met ’n honneurs in onderwysbestuur aangevul het.
Hy sê die Eversdal-hoof van daardie tyd, dr. Heinie Brand, het ’n groot rol in sy lewe gespeel.
“Ons praat gereeld. Hy is nou al afgetree, maar hy is vir my ’n absolute mentor. Ek wou altyd soos hy gewees het in die onderwys. Hy was ’n ongelooflike leier wat mense kon inspireer.”
Brand het ook vir Van Huyssteen, toe maar 31 jaar oud, aangemoedig om in 2002 die hoofpos op Montagu aan te gryp. “En dan los hy jou nie - hy sou gereeld opvolg.”
So bedrywig soos hy is, maak Van Huyssteen darem ook tyd vir persoonlike dinge. Buite skool sê hy hy het ’n groot liefde vir tuinmaak. Hy en sy vrou, Di-Maré (’n gr. 1-juffrou by die skool) ry ook graag fiets - hulle het albei ’n groot liefde vir sport en ry dus graag agter sportgeleenthede aan.
En hoe lank het Hartenbos hom nog? “Solank as wat die mense my hier wil hê. Ek is hier om hulle te dien.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’