Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Hilton en Nanette Westlake se droom aftreehuis het uiteindelik 'n werklikheid geword toe hulle verlede week kon intrek. Dít ná die huis reeds 'n jaar gelede voltooi moes wees.
Mossel Bay Advertiser het in Mei vanjaar berig oor die egpaar se gesukkel om die boukontrakteur, wat reeds die volle bedrag ontvang het, te kry om die huis te voltooi sodat 'n okkupasiesertifikaat uitgereik word.
FOTOGALERY: Westlake se droom aftreehuis
Nanette was baie moedeloos en het toe vertel: "Ons dogter het serebrale palsie en so ook ons kleindogter, Sarah (11). Daar is spesiale voorsiening in die bouplanne gemaak vir 'n platform om Sarah maklik in en uit die motor te laai en ook vir 'n spesiale hyser waarmee sy van die grondvloer na die boonste verdieping kon ry.
"Ons kleindogter is getraumatiseerd, omdat sy nie die situasie verstaan nie en ons drome lê aan skerwe. Ons is radeloos en moet nou wag vir die bouer om stuksgewys die huis klaar te maak soos hy geld inkry."
Intussen het Loka Taute en haar man, Willie, die video oor die probleme met die huis op Mossel Bay Advertiser se Facebook blad gesien en dadelik besluit om te help. "Ons glo in 'n beleid van 'paying it forward' en om iemand anders te help as hulle nie hulself kan help nie. Ons hoop dat hierdie projek 'n sneeubal-effek sal hê om mense te motiveer om ander te help, al is dit deur iets kleins te doen wat jy kan bekostig."
Westlake sê hy is eintlik verstom dat hulle nou al kon intrek. "Dit was 'n lang pad. Hierdie mense het 'n groot klomp geld spandeer dat ons in die huis kan intrek en ons is geweldig dankbaar. Woorde kan nie eintlik uitdruk hoe groot ons waardering en dankbaarheid is nie. Nanette het geval en haar pelvis gebreek die dag voor hulle ingetrek het. "Maar ons is nou uiteindelik in die huis met die hele familie en dit is fantasties. Die vrywilligheid wat die mense getoon het, is absoluut wonderlik. Hulle is soos Engele."
Voel tuis
Wendy Bremner, Sarah se ma vertel: "Sarah is nog gespanne, want sy moet nou weer aan alles gewoond raak, maar sy slaap baie beter. Daar is baie lekker sonplekke in die huis waar sy kan sit en dit help haar om te ontspan. My seun Robert sê dit voel vir die eerste keer asof hy tuis is in Mosselbaai."
Vir Lourens Steyn en David Fleming was dit belangrik om die Westlakes te help om te bewys dat daar ook bekwame boukontrakteurs en goeie mense in Mosselbaai is.
"Die slaapkamer onder moes oorgedoen word, plafonne en vloerlyste is ingesit, die badkamerdeure is vervang, en die houtkappe is olie gegee. Ons het ook die rotse kleiner gebreek en die plaveisel vir die oprit na die garage gelê. Ons het ook besluit om 'n oprit vir 'n rolstoel te bou om dit makliker te maak om Sarah rond te stoot. Agter moet daar nog 'n klein platform opgesit word om die rolstoel makliker in die huis in te stoot. Dit is vir my lekker om uit te reik en te help waar ek kan," vertel Lourens.
Die Westlakes wil almal bedank wat gehelp het om hul droomhuis 'n werklikheid te maak. Nanette is veral dankbaar vir die houtwerkers, die verwers en die mense wat hulle help trek het. Hulle wil ook vir Ena Jacobs bedank wat hulle vir vier maande verlede jaar gehuisves het en steeds na hul hond, Cody, omsien tot 'n heining aan die agterkant van die huis opgerig is.
VIDEO - Lourens Steyn vertel hoekom hulle as boukontrakteurs by die projek betrokke geraak het. Video: Alet Engelbrecht
VIDEO - Loka Taute gesels oor die belangrikheid van gemeenskap en om mekaar te help.
Video: Alet Engelbrecht
VIDEO - Hilton Westlake vertel hoe dankbaar hul familie is om uiteindelik in die huis in te trek. Video: Alet Engelbrecht
Vorige artikel:
Wendy Bremner (dogter) en haar vriend Mike Moriarty staan en gesels op die balkon van die huis wat pas voltooi is.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Mosselbaai nuus'