Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Hilton en Nanette Westlake se droom van 'n aftreehuis op Mosselbaai waar hulle rustig saam met hul kinders en kleinkinders kon bly, het in 'n nagmerrie ontaard met die bouwerk wat ná 14 maande nog nie afgehandel is nie.
Hilton en Nanette voel sterk daaroor dat mense wat van Gauteng en ander dele van die land Mosselbaai hulle tuiste wil maak, hul huiswerk baie goed moet doen en eintlik niemand moet vertrou nie.
FOTOGALERY: Droomhuis ontaard in nagmerrie
Hulle het in September 2021 'n erf in Vogelsang gekoop en eers ná die erf oorgedra en die bouplanne opgetrek is, gehoor van die uitgerekte goedkeuringsproses om melkhoutbome te verwyder. Nie die agent, bouer of argitek het dit ooit genoem nie.
Die bouer het reeds in Februarie 2022 'n deposito verlang en die versekering gegee dat die huis binne vier maande voltooi sou wees. In Junie 2022, was die huis nog in sy fondasie-stadium, maar al die geld wat Hilton en Nanette begroot het én die volle boukoste moes dek, was toe reeds oorbetaal aan die bouer. Hilton vertel dat die kontrakteur aanbeveel is deur ander mense wat hulle vertrou en dat hy by die NHBRC geregistreer is.
"Ek glo dat hy ons geld gebruik het om ander huise waarmee hy ook besig was, te finansier, omdat ons kontantbouers was en die bank nie die geld stelselmatig afgeteken en uitbetaal het nie. Ons dogter het serebrale palsie en so ook ons kleindogter, Sarah (11). Ons het spesiale voorsiening in die bouplanne gemaak vir 'n platform om Sarah maklik in en uit die motor te laai en ook vir 'n spesiale hyser waarmee sy van die grondvloer na die boonste verdieping kon ry.
"Niks hiervan het gerealiseer nie en met die ekstra onkoste van 10 maande se huurgeld, is ons fondse nou uitgeput. Intussen het vandale die halfklaar huis beskadig deur ligte en waterpype uit te ruk wat waterskade op die vloere veroorsaak het," het die moedelose Westlake's vertel.
"Ons kleindogter is getraumatiseerd, omdat sy nie die situasie verstaan nie en ons drome lê aan skerwe. Ons is radeloos en moet nou wag vir die bouer om stuksgewys die huis klaar te maak soos hy geld inkry."
Nanette sê die hele ervaring het haar afgesit van Mosselbaai as plek en die mense in die dorp. "Nuwe intrekkers, waarna smalend as inkommers verwys word, word swak behandel en uitgebuit."
Ook ontevrede
Johan en Antoinette van Wyk se bouery met 'n ander bouer, maar ook in Vogelsang, is veral ontevrede oor die gebrek aan toesig tydens die bouproses waar sub-kontrakteurs dikwels nie opgelei of in staat is om die werk te doen nie. Munisipale regulasies bestaan wel, maar volgens Johan steur die boukontrakteurs hulle nie daaraan nie.
"Daar is lang lyste van goed wat reggemaak moet word, maar hulle kom nooit terug om dit te doen nie. In my geval het die bouer gesê ek moet die fout regmaak en dat hy sal betaal, maar nege maande later is dit steeds nie gedoen nie.
"Die NHBRC is ook 'n tandelose organisasie wat nie genoeg inspeksies doen nie. Hoewel jy as huiseienaar hulle en die ingenieurs betaal, blyk dit dat hulle geen verantwoordelikheid neem nie."
Antoinette voel dat dit sal help as daar meer dikwels inspeksieverslae deur die bou-inspekteurs, ingenieurs en die NHBRC gedoen word en dat dit ook aan die huisbouer voorgelê moet word vir goedkeuring en aftekening.
VIDEO - Hilton & Nanette Westlake on the challenges in getting their dream house build.
VIDEO - Droom aftree huis verander in 'n bou-nagmerrie vir Hilton en Nanette Westlake en hul gesin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’