MOSSELBAAI NUUS - Daar is steeds 29 aktiewe gevalle van bek-en-klouseer (BKS) in die Tuinroete.
"Alhoewel vordering gemaak word met die uitrol van die entstof en die bestuur van die BKS-uitbraak, moet boere en die publiek versigtig bly," sê die skakelbeampte vir Agri Wes-Kaap, Rojeanne de Wet.
Daar is ook steeds paaie in die groter Mosselbaai-omgewing wat weens BKS vir publieke gebruik gesluit bly.
Volgens Gerhard Otto, die hoof van rampbestuur vir die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, sluit dit die DR1607 naby Botlierskop, ook bekend as die Kleinvleipad, sowel as die DR1583 naby Groot-Brakrivier, ook bekend as die Sandhoogtepad, in.
"Die tydelike padsluitings is kollektief tussen die staatsveearts, verkeersowerheid en die padowerheid goedgekeur," sê Otto. Verder is daar ook steeds ontsmettingspunte in sekere areas.
Otto sê hierdie punte word deur die boere self hanteer as deel van hul biosekuriteitsmaatreëls.
De Wet sê die risiko van bek-en-klouseer is nie verby nie, en dit vereis voortgesette waaksaamheid.
"Agri Wes-Kaap doen 'n beroep op alle boere om:
• Biosekuriteit streng te handhaaf - beperk toegang tot plase, ontsmet toerusting en voertuie en rapporteer enige verdagte simptome onmiddellik.
• In te stem tot entstofprogramme - deelname aan entprogramme is noodsaaklik om die siekte se verspreiding te beperk.
• Kudde-immuniteit te help opbou - hoe meer diere ingeënt word, hoe kleiner die kans dat die virus versprei."
De Wet sê volgens die nuutste beskikbare syfers is 170 070 beeste in die Tuinroete al ingeënt.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’