MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit ag die jaarlikse Buffalo Rally na waarde en ondersoek verskeie alternatiewe om die gewilde byeenkoms se toekoms hier te verseker.
Die organiseerders van die Buffalo Rally, die Nomads Motorcycle Club van Kaapstad, het Maandag laat blyk dat die gereelde feesterrein by die De Bakke / Santos-woonwapark, wat onlangs onder privaatbestuur uitgekontrakteer is, onbekostigbaar duur geword het en dat die toekoms van die Buff in Mosselbaai ná 2018 daarom in gedrang is.
Tydens 'n vergadering van belanghebbendes op Maandag, 20 November, het Luderick Jacoby, die voorsitter van die Nomads, laat blyk dat die klub sou verkies om die byeenkoms steeds in Mosselbaai aan te bied, maar ondanks uitgerekte onderhandelinge met die groep wat tans die De Bakke / Santos-woonwapark bestuur, kon daar nog nie tot 'n bekostigbare vergelyk gekom word nie.
Die munisipaliteit het wel ook vandeesweek met verteenwoordigers van die feesterrein se bestuur oor die Buff se behoud in Mosselbaai onderhandel, maar teen druktyd was die slotsom van hierdie vergadering nie bekend nie.
Alternatiewe
Op aandrang van die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, ondersoek die munisipaliteit tans verskeie alternatiewe om die Buff in die toekoms steeds in of om Mosselbaai aan te bied.
Advokaat Giliomee het benadruk dat die bedryf van oorde nie 'n kernfunksie van die munisipaliteit is nie, maar dat alternatiewe ondersoek moet word om die ekonomiese voordeel wat die Buff vir die dorp meebring, te behou.
'n Voorstel wat groot byval gevind het, is dat die Punt-woonwapark oorweeg kan word, veral as 'n tentedorp straks direk naasliggend by die Milkwood Laerskool opgerig sou kan word en sommige van die paaie afgesper sou kon word om die motorfietsryers se veiligheid te verseker.
Die Nomads het laat blyk dat hulle verblyf aan veral die onderskeie orkeslede, ondersteuningspersoneel en ambulanspersoneel verskaf en daarom van behoorlike akkommodasie naby of op die terrein afhanklik is.
'n Alternatiewe voorstel dat 'n terrein spesifiek ontwikkel word om geleenthede soos die Buff en ander groot byeenkomste periodiek te akkommodeer, is entoesiasties begroet.
Luderick Jacoby, voorsitter van die Nomads-motorfietsklub, organiseerders van die jaarlikse Buffalo Rally (derde van links) raadslede, die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee en direkteure van Dryland Event Management en munisipale personeel bespreek die moontlikheid om 'n doelgemakte terrein vir groot geleenthede met die hulp van die privaatsektor op Mosselbaai te vestig sodat die ekonomie en veral toerisme gestimuleer kan word.
Die beskikbaarheid van so 'n terrein mag toerisme aansienlik bevorder en kan bydra om ander groot byeenkomste, onder meer bergfietsbyeenkomste, adrenaliengedrewe toerisme-aktiwiteite of eksklusiewe stapgroepe en toergroepe na die dorp te lok.
So 'n terrein bied ook geleentheid vir privaat instansies om by byeenkomste betrokke te raak deur infrastruktuur soos tentakkommodasie en logistiek beskikbaar te maak.
Dryland Event Management se besturende direkteur, Henco Rademeyer, sê hul maatskappy ondersoek deurentyd ontwikkelingsgeleenthede.
Hulle beoog om 'n bod te plaas vir die 2023 Wêreld Bergfietskampioenskappe, en sal die Cape Pioneer Trek met 30+ deelnemende lande gewis weer na Mosselbaai bring.
Beide hy en sy mede-direkteur, Bernard le Roux meen 'n doelgemaakte oord wat heeljaar bedryf kan word mag ideaal wees vir die vestiging van verskeie byeenkomste op Mosselbaai.
Beide die Nomads en Dryland Event Management het hul lof uitgespreek vir die samewerking wat hulle van Mosselbaai-munisipaliteit se raad, munisipale bestuurder en personeel ontvang.
Kompetisie
Die munisipale bestuurder het benadruk dat die munisipaliteit nie in kompetisie met die privaatsektor fasiliteite ontwikkel nie, maar dat in belang van ekonomiese ontwikkeling alle moontlike alternatiewe om te verseker dat groot byeenkomste soos die Buffalo Rally vir die dorp behoue bly, ondersoek moet word.
Die ekonomiese inspuiting wat die Buffalo Rally vir die dorp inhou, kan nie ontken word nie.
Volgens Jacoby besoek gemiddeld 4 800 motorfietsaanhangers die dorp tydens die Buff, waarvan ruim 60% verkies om van akkommodasie-instellings gebruik te maak terwyl hulle die dorp oor drie dae besoek en ruim spandeer op kos, brandstof en drinkgoed.
Die Nomads neem jaarliks plaaslike mense in diens as sekuriteitspersoneel en skoonmakers.
Plaaslike liefdadigheidsorganisasies bedryf die biertente en gebruik hul opbrengs om behoeftes in die dorp te verlig.
Kleinsake word gestimuleer deur die talle kos en snuisterystalletjies wat goed deur die motorfietsryers ondersteun word.
Die eerste Buffalo Rally het in 1969 in Bathurst plaasgevind.
Naas Port Elizabeth het Mosselbaai die meeste Buffalo Rallies tot nog toe aangebied, 'n rekord wat nou in gedrang is.
Die reëlings vir die 13de Buffalo Rally in 2018 vlot intussen goed, dagboek dus nou reeds die naweek van 16 Maart tot 18 Maart 2018.
Boonop volg die eerste Mos Jazz fees direk na die Buff tydens die naweek van 22 Maart.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'