MOSSELBAAI NUUS - 'n Een-en-twintigjarige verdagte wat twee keer by die Joshua Generation-kerk in Heiderand, Mosselbaai ingebreek het, is vir 'n tweede keer deur die gebou se alarmstelsel betrap.
Die verdagte het op Donderdag, 20 Junie om ongeveer 02:16 by die gebou ingebreek en 'n rekenaar en tablet asook elektroniese toerusting gesteel. Die alarm is geaktiveer, maar sekuriteitsbeamptes kon nie vanaf die afstand waar hulle was sien dat daar ingebreek is nie.
Op Sondag, 23 Junie om 03:00, is die gebou se alarm weer geaktiveer en hierdie keer is pastoor Emslie Wilmot saam met sekuriteitswagte die gebou in.
"Ons trap hom toe in die badkamer vas en hy kon nie uitkom nie, omdat ons die deure van buite gesluit het. Op die kringtelevisiekameras kon ons sien dat dit beide kere dieselfde persoon was."
Volgens Wilmot lyk dit of die verdagte alleen te werk gegaan het. "Jy weet ek het 'n lang gesprek met hom gehad en vir hom gevra hoekom hy dit doen.
Ek het vir hom gesê hy steel nie mense se goed nie maar die Here se goed." Wilmot sê hulle het nog nie die gesteelde goedere teruggekry nie en moes bontstaan vir die betrokke Sondag se diens. "Al ons liedjies was op die tablet en die rekenaar."
Hy sê hy het vir die verdagte gebid en die gebou se sekuriteit is intussen opgegradeer.
Die Mosselbaai-polisie het bevestig dat 'n 21-jarige man in hegtenis geneem is en in die Mosselbaai-landdroshof verskyn het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'