So het die Hoof van Besigheid Teen Misdaad in die Wes-Kaap, Andrew Anthony, op Dinsdag 25 November gesê tydens die opening van die opgradering van die Groot-Brakrivier Polisiestasie se slagoffer-vriendelike kamer. Die kamer staan ook as 'n traumakamer bekend.
Die plaaslike polisiestasie het die 16 Dae van Aktivisme Veldtog teen Geweld van Vroue en Kinders afgeskop deur die traumakamer op te gradeer. Die kamer beskik oor drie opgeleide beraders wat slagoffers van geweld ondersteun en berading bied.
Besigheid Teen Misdaad in die Wes-Kaap en Spar Wes-Kaap het hande geneem tesame met die Suid-Afrikaanse Polisiediens om die traumakamer op te gradeer. Die kamer is die 36ste van sy soort in die Westelike Provinsie wat opgegradeer is. 'n Totaal van 150 slagoffer-vriendelike-kamers sal in die Wes-Kaap Polisiëringsgebied opgeknap word. Wikus de Swart, die eienaar van De Dekke Spar, was die hoofborg wat die verandering van die kamer moontlik gemaak het.
Die traumakamer is in 2001 geopen. Die vertrek is gemaklik en gerieflik ingerig sodat slagoffers op hul gemak kan wees en in privaatheid hulp kan ontvang.
Die woordvoerder van die Groot-Brakrivier SAPD, sers Chantel Marais, sê, "Breek die stilte van geweld, moenie stilbly en mishandel word nie. Daar is hulp, daar is 'n beter lewe daar buite."
Die gebruikte meubels wat in die voormalige traumakamer gestaan het, is aan die Powertown Crèche geskenk.
Sers Marais moedig inwoners aan om geweld by die polisiekantoor aan te meld by 044 620 2206.

Die kamer is oorgeverf en nuwe meubels is in die vertrek gesit.

Die kinders van Powertown Crèche het ook die opening bygewoon.

Die eienaars van De Dekke Spar, Corne en Wikus de Swart, in die traumakamer.
De Dekke Spar het 'n groot bedrag geld geskenk om die opgradering van die kamer moontlik te kon maak.

Die kamer is oorgeverf en kindervriendelik ingerig.
ARTIKEL EN FOTO'S: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'