Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) is tans besig met ’n hersiening van sy beleide rakende watergebaseerde aktiwiteite tydens skooluitstappies en kampe.
Dit is danksy hierdie rede dat Hoërskool Punt se gewilde jaarlikse vlotvaart ’n dag voor dit op die Santosstrand sou plaasvind, tot groot teleurstelling van die leerders afgestel is.
Volgens die WKOD-woordvoerder, Bronagh Hammond, vorm die hersiening deel van die departement se voortgesette verbintenis om die hoogste moontlike veiligheidstandaarde vir alle leerders te verseker.
Die skoolhoof, Adolf Gouws, het Donderdagoggend, 5 Februarie, in ’n brief aan die ouers bevestig dat die skool kennis ontvang het vanaf die kantoor van die minister van onderwys, Siviwe Gwarube, dat alle strand- en swemverwante skoolaktiwiteite tot verdere kennisgewing met onmiddellike effek opgeskort sou wees.
Skoolhoof Adolf Gouws.
Die rede vir die besluit is egter nie aan die skoolhoofde uiteengesit nie.
Hammond het verduidelik dat die skole volgens standaardprosedure aansoeke vir uitstappies by die WKOD moet indien vir goedkeuring, waarna dit van geval tot geval beoordeel word.
“Terwyl die WKOD vanjaar verskeie uitstappies goedgekeur het wat naby water plaasvind, is swemaktiwiteite self nie goedgekeur nie en word dit op hierdie stadium weens veiligheidsoorwegings nie toegelaat nie,” het sy gesê.
Gouws sê dat die skool gereed is om met die vlotvaart voort te gaan sodra die groen lig gegee word.
“Op hierdie stadium lyk dit waarskynlik dat dit eers in die derde of vierde kwartaal moontlik sal wees,” het hy gesê.
Vorige artikel:
Teleurstelling oor gewilde vlotvaart afgestel is
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’