MOSSELBAAI NUUS - Die jaarlikse vlotvaart van Hoërskool Punt is 'n dag voor dit op Santosstrand sou plaasvind, tot groot teleurstelling van leerders afgestel.
Skoolhoof Adolf Gouws het vanoggend aan ouers 'n brief gestuur waarin hy sê die skool het die nuus vanaf die minister van onderwys, Siviwe Gwarube se kantoor ontvang het.
"Ons het vanoggend teleurstellende nuus vanaf die minister se kantoor ontvang dat alle strand- en swemverwante skoolaktiwiteite met onmiddellike effek opgeskort is, tot verdere kennisgewing."
Die boodskap wat die skool ontvang het lui as volg:
"Goeiemôre skoolhoofde. Hiermee word u ingelig dat geen waterverwante aktiwiteite tot verdere kennisgewing toegelaat sal word nie. Geen strandstappe of ander aktiwiteite wat swem behels nie. Hierdie is ’n instruksie vanaf die hoof van onderwys. Ek is bewus daarvan dat dit implikasies vir sommige skole se begrotings sal hê. Dankie vir u begrip."
Die rede vir die besluit is nog nie bekend nie.
Gouws het gesê sodra hy 'n amptelike kennisgewing ontvang, hy ouers sal inlig.
"Hierdie besluit is ’n enorme teleurstelling vir ons almal. Ons sal egter die departement die geleentheid gee om hul interne uitdagings uit te klaar. Sodra ons die groen lig ontvang, sal ons met die vlotbou-aktiwiteit voortgaan. Op hierdie stadium lyk dit waarskynlik dat dit eers in die derde of vierde kwartaal moontlik sal wees."
Mossel Bay Advertiser het navrae na die departement van onderwys gestuur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’