Die sekerheidswag, mnr John Murry het op Dinsdag, 16 April, omstreeks 02:00, 'n verdagte voertuig in die Springerbaai omgewing opgemerk. Toe hy die voertuig nader, het dit inderhaas weggejaag.
Murry het onmiddellik sy bestuurder gekontak, wat vier van hul voertuie gestuur het om hom by te staan. 'n Jaagtog het tussen Boggomsbaai en Mosselbaai ontstaan.
Die Mosselbaai Polisie het bystand verleen en twee swart mans tussen 20 en 42 is op Louis Fourieweg naby die KFC Heiderand aangekeer.
Die Langeberg K9 eenheid, ondersteun deur Suiderkruis Sekuriteit se personeel, het die area waar die verdagte voertuig opgemerk is, ondersoek. Vier lede van die Langeberg K9 eenheid het met hul honde die omgewing deursoek.
Ao Daniel Prins, Ao Piere Botes, Kst Lorenzo Kapp en Kst McDonald Maré het op 18 sonpanele beslag gelê. Veertien van die panele is tussen digte bosse naby die strandgebied by Boggomsbaai opgespoor en nog vier panele is naby Springerbaai gevind. Die waarde van die sonpanele waarop teruggevind is, word op sowat R100 000 bereken.
Die verdagtes het op Donderdag, 18 April in die Mosselbaai Landdroshof op klagte van huisbraak en algemene diefstal voorgekom. Die ondersoekbeampte, Ao Archer, volg steeds leidrade op om 'n suksesvolle verhoor te verseker.
Die KwaNonqaba SAPD kommunikasiebeampte, sers Nomzi Jika, skryf die suksesvolle arrestasie aan goeie spanwerk toe. KwaNonqaba SAPD bevelvoerder, lt kol Johan Braaff, het al die SAPD eenhede wat betrokke was, en veral die sekuriteitspersoneel van Suiderkruis Sekuriteit bedank vir hul flink optrede wat tot die suksesvolle arrestasie gelei het.
Die arrestasie volg op 'n suksesvolle gemeenskapsvergadering in Boggomsbaai, berig sers Jika. By hierdie vergadering het die Gebiedsbevelvoerder Da Gamaskop SAPD, brig Gerhard Jantjies, en die vergadering se voorsitter, mnr Fred Orban, gemeenskapsamewerking aangemoedig.

Sersant Lubabalo Baleni en Ao JC Brink staan by sommige van die 18 sonpanele waarop die SAPD naby Boggomsbaai beslag gelê het. Foto: Sers Nomzi Jika
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS