Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - As mens op die ouderdom van 97 nog kan ry-en-gly, en dit is beslis nie met jou motor op die pad gly nie, is jy verseker geseënd met kwaliteite in die lewe wat nie vir elkeen beskore is nie.
Vir Marie Fick, 'n inwoner van die Lofdal aftreeoord in Bloemfontein, het dié ry-en-gly ander betekenisse as vir die gewone Jan Alleman. Fick het voor haar 97ste verjaardag, wat sy op Dinsdag, 5 Maart, by haar dogter, Mariaan Joubert kom vier het op Danabaai, haar bestuurslisensie hernu.
FOTOGALERY: Op 97-jaar gly en ry 'n mens
Afgesien van effense doofheid, maar met goeie oë en 'n baie helder verstand, het sy haar lisensie gekry wat geldig is tot dat sy 102 jaar oud is. Haar rat-aangedrewe Hyundai Atos het egter by die huis gebly. Sy het afgevlieg George toe en op Sondag, 10 Maart, met 'n geleentheid saam met haar kleinseun, is sy terug Bloemfontein toe. Die rede is dat sy net plaaslik in Bloemfontein met haar motortjie mag rondrits.
Buiten dat sy ry met haar eie motor kan sy ook gly. Fick het in Julie 2022, toe sy die laaste keer op Mosselbaai was, die oudste vrou geword wat op 94-jarige ouderdom die Mosselbaai foefieslide (Zipline), aangedurf het. Op haar verjaardag verlede week het sy haar eie rekord verbeter deur op 97-jarige ouderdom wéér die glykabel aan te durf saam met haar dogter.
Joubert het aan Mossel Bay Advertiser vertel dat haar ma se reaksie was dat sy niks bang was nie, en dat sy dit baie geniet het. "Dit was net te kort," het haar ma ná die rit vir haar gesê.
Met 'n luisterryke lewe sedert haar geboorte in 1927, het sy langs die Oranjerivier grootgeword en is hulle gereeld met die pont oor die sterk Oranjerivier om skool en dorp toe te gaan op Prieska. "Die Mosselbaai foefieslide kom nie naby daardie bangheid nie," het sy vir haar dogter gesê. Sy is gebore in Griekwastad en het ook daar skool gegaan. Sy het op Wellington gekwalifiseer as sendingbeampte om sendingwerk in Afrika te gaan doen.
Sendingwerk
Sy het Uys Fick op Wellington ontmoet terwyl hy as predikant studeer het. Hulle is in 1951 getroud en het saam sendingwerk in Zimbabwe en Zambië gedoen. Dit is ook waar sy Shona in Zimbabwe en in Zambië met die Malawiers Chichewa leer praat het. Daarna in 1959 het hulle sendingwerk in die Vrystaat en goudvelde gedoen. Met vier tale, sewe kinders, 11 kleinkinders én ses agterkleinkinders, goeie gesondheid en bietjie oefening, sê sy dit is alles te danke aan God se genade oor haar lewe. Die foefieslide is haar manier om die Here se naam te prys. "Alles vir my ma is om God te eer," vertel Joubert.
Marie Fick met haar bestuurlisensie wat sy op 97-jarige ouderdom hernu het.
Haar pa, Uys, is in 2012 op die ouderdom van 88 oorlede. Hy was 'n kranige Comrades-atleet en volgens Joubert het haar ma altyd die kort wedlope saam met hom gaan doen. Sy het tot in haar 70's 5km gaan draf in die oggende. "Hulle het altyd gesond geëet en gesond geleef en haar diep geloof dra haar deur al die jare," sê Joubert.
Fick maak steeds haar eie kos al is die oord se kos beskikbaar. Volgens Joubert het haar ma geen verdere groot dinge om aan te pak nie, behalwe om haar baie dik boeke te lees en rustig te wees en op haar hoë ouderdom die lewe te geniet saam haar kinders."
Verskafde video:
Die instrukteur saam met Marie Fick en haar dogter Mariaan Joubert by die Mosselbaai foefieslide (Zipline).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’